“Oor Koeberg se heuwels met golwende graan, ons blik op die Ooste, die oggond son staan…”

Hoërskool Durbanville, alombekend as die klein skool met die groot hart poog om ‘n daadwerklike verskil in kinders se lewens te maak.

Dit neem nie lank om die voordele van ‘n top skool raak te sien nie. Hoërskool Durbanville wat in 1827 gestig is, is huidiglik die tweede oudste skool in Suid-Afrika. Met die skool se besondere passie vir onderwys en die kernwaardes waarop dit berus naamlik voortreflikheid, respek, selfdissipline, lojaliteit en ‘n Christelike waardestelsel, streef die skool daarna om elke Durbanviller toe te rus met die nodige lewensvaardighede, kennis en ondervinding, sodat hulle as volwassenes sukses kan behaal en ‘n verskil in die samelewing kan maak.

Durbanville, met sy landelike gevoel, in ‘n stedelike opset, beskik tans oor die enigste koshuis in die Noordelike Voorstede. Die koshuis poog om ‘n huislike atmosfeer, weg van die huis af te skep, waar leerders, op alle vlakke, hul volle potensiaal kan ontwikkel.

Op kultuur gebied bly Hoërskool Durbanville steeds die pasaangeërs. Nie net het die skool verlede jaar die ATKV Applous kompetisie vir kore gewen nie, maar het Durbanville met die gesogte titel van ATKV Tienertoneelkampioene, by Aardklop in Potchefstroom, weggestap. Die orkes het verskeie kompetisies gewen en die drumline het die nasionale SAMOV kompetisie gewen.

Hoërskool Durbanville het die afgelope paar jaar belê in puik afrigters in verskeie sportsoorte. Van die nuwe aanstellings is onder andere ASA vlak 3 Atletiekafrigters, Mnre Johan Swart en Tashwell Adams asook SA Olimpiese atleet, Rocco van Rooyen. By dogtershokkie is gesoute afrigter, Mev. Annette Olivier, wat jare se ervaring in die Premierliga het, as Hoof van Afrigting aangestel om die afrigters sowel as die spelers te brei. Die skool het ook vanjaar die dienste van huidige SA Proteas netbalspeler, Rochelle Lawson bekom en sy sal met die spanne en spelers werk. By die rugby is Mnr Shaun Huygen aangestel as Direkteur van Rugby. Mnr Reuben Abels, die huidige WP O/13 Cravenweek afrigter, brei weer die o/14’s vanjaar en gewese Springbokke Mnre Dawie Snyman Snr en Marius Joubert sluit ook vanjaar by Durbanville se afrigtingspan aan.

Die skool het onlangs ‘n gimnasium vir die leerders ingerig, waar die verskeie sportsoorte, onder die wakende oog van gekwalifiseerde afrigters en fisioterapeute, oefen. Durbanville Wellness Centre hanteer weer vanjaar die verskeie sportsoorte se beserings en rehabilitasie. Voor-seisoen en na-seisoen kondisioneringsprogramme word gevolg om seker te maak dat leerders fisies gereed is. Die doelwit van hierdie projek is om ‘n gesonde leefstyl en oefenkultuur by leerders te kweek. Hierdie vorm ook deel van die langtermynvisie om leerders se fiksheids- en vaardigheidsvlakke progressief  te verbeter.

Van die onlangste prestasies sluit die volgende in:
Akademie – 5 leerders bo 90% gemiddeld met MJé Boshoff as toppresteerder 95,4% (Wes-Kaap Merietelys, 5 leerders onder Top-10 vir Afrikaans, Wiskunde, Ekonomie en Lewenswetenskap
Koor – Wenners van ATKV Applous en naaswenners van Catamus Nasionale Koorfees
Orkes & Drumline – Orkes wen verskeie eisteddfods en Drumline wen nasionale SAMOV kompetisie
Toneel – Streek- en Nasionale ATKV Tienertoneelwenners
Atletiek – Interskole weners, 30 Noord-sone atlete, 15 WP atlete, 5 WP kampioene, 1 Wes-Kaap kampioen en 1 SA kampioen
Swem – swem tans in top liga van die WP
Tennis – Wenners van T4J Tennistoernooi, naaswenners van Curro Tennistoernooi (Paarl Boishaai en Paarl Gimnasium)
Tweekamp – WP skole kampioen
Hokkie – Dogters wen WP liga en speel tans Premierliga
Netbal – 7 spanne in WP Superliga finale en 3 wenners van WP Superliga, O/16A wen WP en Wes-Kaap 3 jaar in ‘n ry en lewer ook 3 Wes-Kaap finalis spanne op, 14 WP en Wes-Kaap spelers waarvan 5 gekies was as kaptein en 1 onder-kaptein
Rugby – O/14A en O/15A albei onder Top 15 op SA Powerade Rugby Rankings, O/14 wenners van 7’s toernooi (klop Paarl Boishaai en Paarl Gimnasium), O/15 naaswenners van 7’s en O/16 derde plek by 7’s, 5 WP Elitegroep spelers

Hoërskool Durbanville presteer jaarliks op akademiese-, kultuur- en sportgebied en getuig dat dit nie lank neem om die voordele van ‘n top skool, in die hartjie van Durbanville, raak te sien nie.

Hoërskool Durbanville is ‘n skool wat klein genoeg is om persoonlik te wees, maar groot genoeg is om ‘n verskil te maak.

#TrotsDurbanville

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *