Verf Met Lig Deel 1

Ek is gevra om vir die volgende paar weke op ‘n weeklikse basis ‘n paar fotografie wenke te gee en is opgewonde oor die geleentheid om my passie met julle te deel.

Daar is soveel ongelooflike talentvolle fotograwe in ons land (veral hier in Durbanville!) en daarom noem ek dit sommer uit die staanspoor dat ek myself nou glad nie as ‘n tegniese guru of super-fotograaf wil voorgee nie. Inteendeel – ek het eintlik meer van ‘n intuïtiewe as tegniese skietstyl… alhoewel ek ‘n fotografie kursus geneem het, het ek eintlik inligtingskunde en bemarking studeer. Omtrent alles wat ek van hierdie kragtige visuele medium weet het ek “on the job” as fotojoernalis geleer. Ek was bevoorreg om as jong aspirant-fotograaf ander briljante (en gesoute) persfotograwe te volg en saam met hul op stories te gaan en te sien hoe hul werk.

In die volgende ses jaar as persfotograaf het ek basies enige iets onder die son afgeneem. Na dit het ek begin vryskut en vir ‘n paar jaar baie troues en korporatiewe fotografie gedoen. Die afgelope vier jaar spesialiseer ek in my groot liefde naamlik portrette (en dans en teater as ek die kans kry). Na altesaam 16 jaar in die bedryf leer ek steeds elke dag iets nuuts!

Hierdie wenke is gerig op die persoon wat nie ‘n professionele fotograaf is nie, maar dalk net beter foto’s wil neem, al is dit net met jou “mik en druk” of selfoon. Of jy nou Canon of Nikon skiet en of jy jou vriende, familie, hond of tuin wil afneem. Ons sal definitief by die tegniese aspekte ook uitkom, maar ek weet dat baie mense se kamera’s nie eens noodwendig “manual settings” het nie. Daarom gaan ek begin met ‘n paar basiese goed wat jy kan doen om sommer dadelik al beter resultate te kry – nog voor jy eens hoef te weet wat ‘n f-stop is.

Kom saam met my op ‘n reis waar ons gaan verf met mooi lig en speel met verskillende fotohoeke en net leer hoe om anders te kyk na die wêreld om jou, want ek glo dit is waaroor fotografie eintlik gaan. Alles wat jy in daardie “prentjie” van jou inpas voor jy die knoppie druk moet daar wees vir ‘n rede. Dit is die eerste ding wat my mentor my destyds geleer het en dit is waar ek sal begin.

‘n Paar basiese fotografie wenke (Fotografie 101):

Eerstens wil ek net ‘n paar basiese punte noem wat jou hopelik sommer met jou volgende foto of “selfie” sal help:

Die eerste ding wat my fotoredakteur my geleer het, is dat dit amper belangriker is wat jy uit die foto uitlaat as inlaat. Probeer enige iets wat aandag van die onderwerp (of dit wat jy wil afneem) kan aftrek uit die foto uit te laat. As jy bv. vriende by ‘n funksie afneem kan jy seker maak dat daar nie sleutels op die tafel lê nie en dalk die leë wynglase wegskuif…

Kyk na jou agtergrond. Een van die foute wat ek baie aan die begin gemaak het was om nie na my agtergrond te kyk nie. Daar is niks so frustrerend as om ‘n mooi foto van iemand te neem net om na die tyd agter te kom dat daar ‘n boom uit die persoon se kop groei nie! Mens kan dikwels ook die probleem oorkom deur nader aan jou onderwerp te beweeg of in te “zoom” as jy kan. Ek sal later verduidelik hoe jy met jou lensopening ook die agtergrond kan uitgooi.

Die legendariese fotograaf, Ansel Adams, het gesê dat ‘n goeie foto verkry word deur te weet waar om te staan. Probeer verskillende fotohoeke.

As jy kinders afneem help dit om na hul vlak af te sak. Dit maak jou minder intimiderend en jy sal tien teen een beter reaksies uit hul uit kry. Wag vir spontane oomblikke. Dit werk beter as om iemand te vra om “cheese” te sê! Moenie mense van onder afneem nie en probeer om nie ledemate op snaakse plekke af te sny nie (ek sal nog verduidelik!).

Die beste tyd vir buite-foto’s en landskappe is of baie vroeg die oggend of so uur voor die son sak tydens die “golden hour” soos dit genoem word. Sorg dat dit wat jy afneem (of wie) heeltemal in die son is of heeltemal in die skaduwee om bv. skadu-strepe op die gesig te vermy.

Sorg dat die bron van lig altyd agter jou is en probeer so ver moontlik beskikbare lig gebruik (soos die lig wat by ‘n venster of deur inkom). Probeer om jou horison altyd mooi reguit te hou. Dit werk gewoonlik beter as ‘n skewe foto.

En laastens ken jou “reël van derdes” en ander komposisie tegnieke, maar moet ook nie bang wees om hul te verbreek nie!

Brenda Veldtman
Eienaar: Brenda Veldtman Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *