Die Lewe Bied Nie Redo’s Nie

“A MAN’S EGO IS JUST AS SENSITIVE AS A WOMAN’S SELF-ESTEEM”
– Sonya Teclai

Verhoudings bly altyd ‘n komplekse onderwerp om oor te praat. Daar is soveel verskillende opinies oor hoe mens moet wees en wat jy moet doen om die ander persoon gelukkig te maak en om jouself gelukkig te hou. Ek sien myself beslis nie as ‘n kenner op die gebied nie, maar slegs ‘n student van my eie ervaringe en fyner observasie van ander.
Gisteraand sit ek vasgevang in ‘n moeilike gesprek met iemand waarvoor ek baie omgee. Dis dan juis in daardie oomblikke wat die lewe jou dinge van jouself leer, wat jy nie van jouself weet of dalk wil raaksien nie. Die verskil is net of jy dan oop is vir daardie oomblikke en oop is vir die les en die toets.
So deur oë wat swem en die padda in my keel moet ek myself keer om hom nie net te druk en te sê: “Kom ons vergeet van alles en begin net van vooraf” nie. So asof niks gebeur het nie. As alles maar net so maklik was, maar ongelukkig kry mens nie “redo’s” in die lewe nie en dis net hier waar ek die keuse moet maak of ek gaan oop wees vir die les. Hier, in die uitdagende gesprek, besef ek toe iets, met baie meer waarde as enige teorie wat ek ooit ‘n boek sal lees.
‘n Man se ego is net so sensitief soos die selfbeeld van ‘n vrou en moet net so mooi en delikaat hanteer word as jy die een waarvoor jy omgee se emosionele welstand in ‘n gesonde kondisie wil hou.
‘n Vrou se selfbeeld:
Dit is voor die hand liggend dat afbrekende kommentaar soos, “Jy’s darm maar baie lui, dis hoekom jy so vet is. Jy kan ook niks regdoen nie. Geen wonder jy kan ook nêrens uitkom nie, want jys rigting-bedinges.” emosionele krapmerke en wonde los en as jy genoeg krap ontwikkel die sweer.
Dan is daar ook die dinge wat hy nie sê nie, wat net so seer, indien nie seerder maak nie. Jy koop ‘n nuwe rok, hy sê niks. Jy verloor daai 2kg, hy sê niks. Jy doen jou hare soos hy daarvan hou en steeds sê hy niks. Hier is waar die sensitiwiteit van ‘n vrou se selfbeeld ‘n baie groot rol speel. Dit klink so onnodig of dat dit agv jou vroulike onsekerheid is, maar ons as vrouens weet dat jy tog aan daai sny gaan peuter ten spyte van jou beste intensie om nie die roof af te krap nie.
Al word die bogenoemde soms met goeie intensies gesê of as ‘n grappie bedoel, maak tog nie minder seer nie. Die kneusplek op jou hart en selfbeeld gaan steeds daar vir jou wees om te voel en seerder te raak met elke verbale en emosionele hou wat na jou kant toe kom.
‘n Man se ego:
Net soos wat dit vir mans moeilik is om hulself in ons skoene te plaas wanneer ons sekere kommentaar, volgens hulle, te sensitief ervaar, is die teenoorgestelde net so waar. Hoeveel keer het ek nie, met goeie intensies en bedoelinge, “opbouende” kommentaar gelewer, sonder om twee keer te dink wat dit aan sy ego kan doen nie. Ek bedoel dit dan mos mooi en eerlik en as opbouend, maar min besef ek, ek’s eintlik besig om hom af te breek en sy ego te beseer. “Wil jy nie eerder die vleis sò braai nie, dis beter. Ek kan mos ook soms self vir my iets kry om te drink. Het jy al gehoor hulle sê dat as ‘n man dit die eerste keer nie reggekry het nie het hy dit gewoonlik die tweede keer regkry, omdat hy dit doen soos sy vrou vir hom gesê het.” Als as grappies of “opbouende” kritiek bedoel, maar toe besef ek gisteraand, met sy volgende woorde, dat ek hom laat met krapmerke en kneuse.
“Ek wil hê jy moet kan opkyk na my.”
Is dit dan nie tog wat elke vrou ook vir en van haar ander helfte wil hê nie? Hoe kan hy dan dinge raaksien en my komplimenteer as hyself gekneus is? Tot dusver het ek nie besef watter impak ek op sy ego gehad het nie, maar ek verwag dan nog van hom om die persoon te wees wat ek oorspronklik ontmoet het en op verlief geraak het. Die persoon waarna ek opgekyk het.
My les oor liefde:
Dink altyd twee keer voordat jy iets sê en dan sommer ‘n derde en vierde keer ook. Redeneer baie krities met jouself of dit opbouend of eerder afbrekend is, wat net beter vermom is, want maak nie saak hoe mooi dit vermom is nie, dit gaan steeds daai wond los. Vra jouself af of dit wat jy wil sê rêgtig nodig is? Gaan dit enige negatiewe emosionele effek op jou hê as jy dit nie sê nie en indien jy besluit om dit wel te sê, of hy steeds die persoon gaan wees met die gesonde ego waarna jy wil opkyk, want die lewe bied nie “redo’s” nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *