Natuurlike Portretfoto’s: Deel 1

Ek kry elke dag te doen met mense wat glo dat hul nie fotogenies is nie. Baie mense is eintlik nogal kamerasku. Dit is vir my so lekker om hul dan verkeerd te bewys. Edward Steichen het gesê dat ‘n portret nie gemaak word in die kamera nie, maar aan weerskante van die kamera.

As jy ‘n goeie portret van iemand wil neem, een sonder enige pretensie, glo ek dat jy as fotograaf die persoon wat jy afneem op hul gemak moet laat voel.

Een van die eerste wenke wat my fotoredakteur jare terug vir my gegee het om mense meer op hul gemaak te laat voel, was om oor jou kamera te loer na die mense wat jy afneem net voor jy die knoppie druk. Basies kry jy alles reg (komposisie, fokus ens), maar bring net jou oë agter jou kamera uit (bo of aan die kant), om oogkontak te maak net voor jy die foto neem. Mense reageer baie beter teenoor ‘n persoon as teenoor ‘n kamera. Die reaksies verskil, maar dit is gewoonlik baie positief. Meeste mense is skoon verbaas en sal gewoonlik lekker lag. Probeer dit bietjie, dit werk!

Veral kinders kan vinnig belangstelling verloor as hul net die heeltyd in ‘n lens moet vaskyk. Met familiefoto’s sal ek bv. vir mamma of pappa vra om net langs of agter my te staan, sodat baba na hul kan kyk en lag. Toe ek nog troues afgeneem het en bv. ‘n enkelportret van die bruid wou neem het ek dikwels vir die bruidegom gevra om langs my te staan sodat sy vir hom kon glimlag. Mens kry nou maar net ‘n ander tipe “kyk” en deernis in die persoon se oë as hul op iemand fokus vir wie hul lief is. ‘n Baba kyk bv. met soveel deernis na sy ma en ‘n man na sy bruid. Dit is mos nou baie beter as om vir die fotograaf te moet “smile”.

Op daardie noot: probeer om nie vir die mense te vra om “cheese” of “whiskey” te sê nie. Die smiles wat jy kry is meestal geforseerd, onnatuurlik en onpersoonlik.

Daar is natuurlik baie uitsonderings, maar ek vind dat wanneer dit by portretfotografie kom, dit beter is om die foto’s so min as moontlik te probeer beheer of op te stel. Dit beteken nie dat jy nie kan rigting gee nie. Praat gedurig met die mense wat jy afneem, soos wat jy sien wat werk en nie werk nie. Jy kan dalk leiding gee oor waar die persone hul hande moet plaas of hoe hulle moet sit of staan. Partykeer sal ek die mense wel opstel en vir eers sê hul moet my ignoreer en net met mekaar gesels. Gewoonlik sal daar alreeds ‘n paar natuurlike foto’s uitkom. Mens kan dan steeds die gewone “kyk vir my” foto’s ook neem, maar ek vind dat die foto’s tussendeur die opgestelde foto’s gewoonlik die spesiaalste is.

Ander kere (afhangende van hoeveel mense ek afneem en watter tipe fotosessie dit is) sal ek die mense na my toe laat stap en gesels. Met familiefotos sal ek dat ma en pa met die kinders speel en net tyd spandeer (soos wanneer ek nie daar is nie). Dit is ook gedurende daardie tye wat ek daarvan hou om met my langlens te skiet sodat hul amper van my vergeet. Dit is die lekkerste ding as jy na die tyd vir mense foto’s kan wys wat hul nie eens besef het jy was besig om te neem nie. Dit is ook hoekom ek meestal sonder ‘n flitslig skiet.

Daar is nog so baie wat ek kan noem, maar dit sal ongelukkig moet wag tot volgende week.

Ek sluit af met Paul Caponigro se wyse woorde. Hy het gesê dat dit is een ding om ‘n foto te neem van hoe iemand lyk, maar ‘n ander om ‘n portret te neem van wie hul is. Mooi nê?

Brenda Veldtman
Brenda Veldtman Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *