“Beroeps”fotograwe

Vandag wil ek spesifiek skryf vir amateur fotograwe wat daarin belangstel om hul fotografie verder te vat en dalk ‘n loopbaan daarvan te maak. Die industrie is eintlik baie klein en daarom is dit net so belangrik om professioneel te wees as om mooi fotos te neem. Ek deel graag net so paar klein goedjies wat my help om nie onnodige foute te maak nie en sorg dat ek altyd (selfs op kort kennisgewing) reg is om foto’s te neem!

Sorg dat jou kamerasak altyd netjies gepak is en dat jou batterye gelaai is. Ek doen dit sommer dadelik na elke fotosessie, maar dit is nou maar ‘n gewoonte wat ek by die koerant geleer het. Ons moes na elke storie dadelik die foto’s aflaai en betyds inkry voor die koerant sak. Ons het gemiddeld so 2 na 3 stories per dag gedoen en moes altyd reg wees om op ‘n storie te gaan as iets gebeur het.

Dit is goed om tenminste twee “camera bodies” te hê (vir ingeval die een besluit om tydens die fotosessie op te pak). Dit het een keer met my gebeur. Lettelik soos wat die bruid by die kerk ingestap het! Ek het ‘n paar sekondes gehad om die ander kamera uit te kry en lense te wissel sonder om ‘n oomblik te mis.
Party fotograwe dra altyd twee kamera’s. Een op elke skouer met verskillende lense op wat ook lekker kan werk. Ek het ‘n baie oulike kamerasak wat mens uitmekaar kan haal (met ‘n deel wat om my middel vasmaak sodat ek vinnig en maklik by my langlens, flitslig en kaarte kan uitkom ). Dit werk lekker as jy lense in die hardloop moet wissel!

Sorg dat jy ekstra gelaaide batterye vir jou kamera sowel as jou flitslig het. Later kan jy ook ‘n ekstra flitslig aanskaf en ook jou versameling van lense uitbrei.

Baie fotograwe verkies deesdae om met een groot geheuekaart te skiet (die tegnologie het al so verbeter dat mens baie groot en vinnige kaarte kry), maar ek verkies steeds meer as een. Ek is net bang iets gebeur met die een kaart… Verbeel jou jy neem ‘n hele troue of korporatiewe funksie op een kaart af en hy raak weg, gesteel of foutief! Gelukkig het dit nog nooit met my gebeur nie, touch wood. Dit voel net vir my veiliger om jou foto’s oor so paar kaarte te versprei.

Om te keer dat ek dalk per ongeluk foto’s afvee wat ek nie moet nie, sal ek sorg dat al my kaarte skoon is voor ek by die huis ry. Ek het ‘n spesiale sakkie vir my geheuekaarte en sorg dat almal vorentoe wys. Soos wat ek die kaarte vol skiet en vinnig moet ruil tussendeur sal ek die kaarte wat vol is agterstevoor insit om te keer dat ek dalk per ongeluk dieselfde kaart weer in my kamera sit. Sodoende kan jy ook sien hoeveel kaarte jy oor het en vooruit beplan (dat jy nie te veel foto’s neem en uit plek uit hardloop nie). Dit is in elk geval beter om nie onnodig te veel foto’s te neem nie. Mens kan so bederf raak met digitaal omdat jy baie meer kan skiet as in die verlede op film. Onthou net – elke foto wat jy neem beïnvloed jou verwerkingstyd na die tyd.

Dan het elke ding (van kaarte tot batterye) ‘n baie spesifieke plek in my kamerasak. Op daardie manier is dit maklik om vinnig dubbel seker te maak dat jy alles het en dat jy niks vergeet nie.

Sorg dat jou kamerasak altyd mooi toe is. Netnou, netnou vergeet jy dit is nog oop, tel die sak op en al jou toerusting val uit (of iemand anders probeer dalk jou sak skuif). Sorg dat jou kamera se band om jou hand gedraai of om jou nek is as jy neem (net om te keer dat dit te maklik val). As jy jou kamera op ‘n tafel neersit sorg dat die oppervlakte droog is en die band mooi op die tafel is (en nie van die tafel afhang nie). Veral as daar dalk klein handjies in die omtrek is wat dit kan aftrek.

Koop sommer van die begin af vir jou lense UV filters. Daar is so paar voor- en nadele, maar die grootste voordeel, volgens my (wat al die nadele oorsadu), is dat dit keer dat jou lens krap. Dit is goedkoper om die filter te vervang as die lens! Sorg net dat jy ‘n goeie UV filter koop, want goedkoper filters kan die fokus beïnvloed. Wees versigtig as jy lense ruil dat daar nie stof in jou kamera inkom nie. Diens jou kamera gereeld.

Moet nooit jou kamera of kamerasak in die motor los nie (veral nie sigbaar van buite nie). As ek bv. iewers moet stop oppad terug van ‘n fotosessie sal ek liewers my kamera saam met my neem en op my rug dra. As jy vinnig moet stop is die kattebak seker die veiligste plek indien jy nie jou toerusting saam met jou kan neem nie. Onthou net dat die foto’s op jou kaarte in jou sak nie vervang kan word nie.

Stiptelikheid is natuurlik baie belangrik. Nie net om professioneel te wees nie, maar ook om seker te maak jy mis niks nie! As die fotosessie of geleentheid vroeg die oggend begin help dit ook om sommer die vorige aand al petrol in jou motor te gooi. Maak ook vroegtydig seker jy weet presies waar jy moet wees en gee jouself oorgenoeg tyd om daar te kom. Met meeste van my shoots sal ek die kliënt se nommer, plus ten minste een “net vir ingeval” nommer voor die tyd kry. Toe ek nog troues gedoen het sou ek die bruid, bruidegom en ten minste ‘n strooimeisie of vriendin se nommers gekry het. Jy verdwaal dalk of iets gebeur en die een persoon wie se nommer jy het antwoord nie en dit kan jou onnodig laat maak. Verder is dit ‘n goeie idee om die aanwysings ook net op ‘n stukkie papier te skryf. Net ingeval jou GPS oppad deurmekaar raak of sein verloor (dit het al met my gebeur, maar gelukkig het ek die aanwysings ook byderhand gehad).

My fotoredakteur het altyd gesê dat geen foto belangriker is as jou of ander mense se veiligheid is nie. Kyk dus mooi na jouself as jy foto’s neem en probeer maar steeds bewus wees van wat om jou aangaan (ek weet mens kan nogal verlore raak as jy foto’s neem). Ek het al gesien hoe ander fotograwe val, enkels verstuit of in die water beland (met hul toerusting!) deur bv. agteruit te loop terwyl hul skiet. Ek self het eenkeer amper baie seergekry toe ek op ‘n stoel klim om hoogte te kry en nie die dakwaaier sien nie! Gelukkig het my kollega my net betyds gekeer.

Dit is dan dit van my vir eers! Ek hoop regtig van my wenke kon van waarde wees. Baie dankie DurbanvilleAtHome vir die geleentheid. Soos wat ek al gesê het glo ek dat mens met ‘n klomp fotograwe moet gesels, want elkeen se storie is anders en elkeen kan iets spesiaal bied. Daarom gaan een van my vriendinne en mede-fotograwe, Bernadette Dippenaar van BE Photography, van volgende week af vir so paar weke van haar ervarings en wenke deel. Sy neem ongelooflike mooi fotos en is ook al baie jare in die bedryf. Ek kan nie wag om haar artikels te lees nie.

Ek wens julle mooi lig en spesiale oomblikke om vas te vang toe. Lekker skiet!

 

Brenda Veldtman

Veldtman Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *