Verslawing…

Meeste van ons het iewers in ons lewe al bietjie, en sommiges meer, met gewig gesukkel. Ons lewe in ‘n tegnologiese era waar ons konstant herinner word hoe ons moet lyk, wat ons moet aantrek, hoeveel ons vir ons lengte moet weeg en dan terselftetyd moet vaskyk in modelle wat vér onder hul gesonde gewig op loopplanke, voorblaaie en sosiale media pronk.
Ek self was lank in ‘n stryd met my gewig. Ek was nog nooit ‘n slanke kind nie en het nou maar eenmaal my pa se “kyk na ‘n bord kos en tel 2kg op’-gene gekry. Die feit dat ek BAIE van kos hou help ook nie juis nie. So staan ek toe Desember 2015 in my huisdokter se spreekkamer met trane in my oё, die swaarste wat ek nog ooit in my lewe geweeg het en ver bo die gewig wat enigsins vir my gesond is.
Met die terugvoer van my bloedtoetse wat ‘n onderaktiewe skildklier en insulienweerstandigheid bevestig, raak my gemoed toe dadelik ligter, want die medikasie gaan mos nou als regmaak. Sommer net so, soos die klap van jou vingers. Dokter bring my toe sommer weer vinnig aarde toe met die volgende woorde: “Die pille gaan slegs jou liggaam soos ‘n normale persoon s’n laat funksioneer. Jy moet steeds jou lewenstyl en eetgewoontes drasties aanpas” en net daar met die gong van sy woorde verdwyn my fairy godmother met haar goue koets en al.
Vir iemand wat al elke kits dieet op die mark probeer, reggekry en dan weer als en meer opgetel het, was ek siek en sat vir die wipplank ry. Ek moes iewers ‘n besluit maak en drastiese veranderinge teweegbring as ek verandering wil sien.
So lees ek die artikel Food addiction is not about willpower, op www.psychologytoday.com raak. Daar sit ek, selfoon in die hand en ek tick elke liewe boksie en vir ‘n wyle staar ek net na die blad. “Ek is ‘n volslae verslaafde.” So begin ek met my stappe van “genesing”.
Stap 1 : Eerlikheid
Ek ooreet meer as wat ek wil erken, ek eet wanneer ek nie honger is nie en ek weet nie hoe om nee te sê vir kos nie. Dit ís ‘n probleem, want dit is nie gesond vir my liggaam nie. Ek het voorheen al laat toets vir skildklier en die hele toetie en als het negatief teruggekom. Hoe het die mediese kondisies dan net so in ‘n kwessie van ‘n paar jaar ontwikkel? My ongesonde lewenswyse.

Stap 2: Hoop
Hoop dat ek die sal kan oorkom, hoop dat ek nie moedeloos sal raak nie, hoop dat ek nie meer so baie van kos sal hou nie, net… hoop.

Stap 3: Bereidwilligheid
Is ek bereid om die pad met ander te deel? Is ek bereid dat ander my ondersteun en hierdeur help? Om bereid te wees en hulle uiteindelik toe te laat is twee pole van dieselfde magneet, want dis hier waar die dieper introspeksie begin.

Stap 4: Werklike Introspeksie
Hier moes ek lank gaan sit en dink oor wat die redes en bydraende faktore was dat ek soveel gewig opgetel het. Ek moes aan myself erken dat dinge wat ek as afgehandel beskou het, nog nie vergewe was nie en dat ek juis eers hieroor moes praat en deurwerk en vergewe voordat ek werklik kon aanbeweeg. Sekere aspekte van opbrengs, als met liefde bedoel, het ‘n baie groot bydra gehad en ook dit moes ek aan myself en ander erken.

Stap 5: Verantwoordelikheid
Noudat ek die bydraende faktore deurgewerk het, moes ek begin verantwoordelikheid neem vir my eie bydrae. Al my ongegronde verskonings en regverdigings vir my ongesonde lewensstyl.

Stap 6: Aanspreeklikheid
Die onus is nou slegs op my of ek myself aanspreeklik gaan hou vir my aksies vorentoe. Ek moet na elke ete kyk en myself afvra of ek honger is, of die kos voedsaam vir my liggaam is en bydra tot my gesondheid en om te besluit om op te hou eet indien ek versadig is. Ek moet elke dag opstaan, myself motiveer en bewustelikheid kweek.
My stappe tot “genesing” verskil van ander, maar wanneer jy saam met die regte persone die pad stap kan jy berge versit. “Genesing” sit ek doelbewus in aahalingstekens. Ek glo nie mens kan genees word van enige verslawing nie. Dis ‘n bewustelike besluit. Ek moet elke dag ‘n bewustelike besluit neem dat ek gesond wíl wees.
Jy mag dalk een van die talle mense wees wat letterlik alles al probeer het en voel niks werk nie. Gee jouself en terapie ‘n kans. Soms sukkel ons net om oor die berge van bereidwilligheid en werklike introspeksie te kom en sodra ons die twee versit het, is dit net afdraende en mooi uitsigte.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *