Ons Moet Almal Spaar

Talle Suid-Afrikaners moet tans die geldelike rieme stywer trek as gevolg van die finansiële verknorsing waarin Suid-Afrika hom tans bevind. Om ‘n kind te leer om skoenveters vas te maak is reeds vir baie ouers ‘n uitdagende taak, hoe verduidelik jy dan vir ‘n kind, veral as hulle nog redelik jonk is, dat die veters nou stywer getrek en geknoop moet word?

Die moeilike deel lê nie noodwendig in die verduideliking van finansies aan kinders nie, maar eerder in hulle verstaanbaarheid daarvan. Ek kan slegs vir ouers ‘n paar wenke gee hoe om hulle kinders te help verstaan wat die waarde van geld is.

Begin op ‘n vroeë ouderdom sakgeld gee.
Leer kinders om op ‘n jong ouderdom met ‘n sekere bedrag geld te werk. Hierdeur leer hulle ook dat hulle nie altyd kan koop wat en wanneer hulle wil nie.

Wat is dan die regte ouderdom?
Sodra kinders kan begin somme doen, glo ek, is ‘n ideale tyd om met sakgeld te begin. Ouers kan natuurlik nog help met die somme, maar so kweek dit die verstaanbaarheid van geld al op ‘n ouderdom waar hulle kan begin verstaan van meer (spaar) en minder (spandeer).

Kan ek dan nie meer iets koop nie?
Die vangplek hierin lê dat ouers hiermee moet deurdruk en nie ingee wanneer daar met daardie groot, smekende ogies en fyn stemmetjie gevra word of hulle maar die lekkertjie of speelding kan kry nie. Natuurlik kan jy nog nou en dan bederf, maar dit moet nie die norm wees nie.

Hier kan jy ook ‘n waarde aan die bederf heg.  As jy weet hulle wil graag ‘n fidget spinner hê (waarvan ek nog nie heeltemal die funksie verstaan nie, maar nou ja) koop hom skelmpies en wanneer die geleentheid daar is wat hulle iets doen wat werklik ‘n beloning regverdig, gee dit dan aan hulle. Hierdie moet nie ‘n “omkoopgeld” wees nie en daarom is dit nie iets wat hulle vooraf van weet nie, bv. “as jy jou huiswerk doen, kan jy ‘n lekker kry” nie, maar eerder, “Jyt vandag self jou huiswerk gedoen, sonder dat ek moet vra of soebat, hier is vir jou ‘n ietsie.”

Hierdeur leer kinders ook om te werk vir ‘n beloning wat dalk mag of dalk nie mag kom nie, soos ‘n bonus in werksomstandighede.

Leer kinders om ‘n deel van die bedrag te spaar.
My ouers het altyd geglo aan ‘n derde spaar. Dit maak nie saak wat die hoeveelheid is nie en elke ouer kan hul diskresie gebruik wanneer dit hierby kom, solank kinders ‘n deeltjie wegbêre of in ‘n spaarblikkie spaar vir ‘n vakansie of daai ietsie spesiaals wat hulle wil koop.

Leer ouer kinders (10 en op) om te budget.

Leer hulle vroegtydig om te beplan wat hulle met hulle geld moet doen, hoeveel daarvoor weggesit moet word en hoeveel dan oorbly vir dinge wat hulle graag wil doen of koop.

Leer kinders om entrepeneurs te wees:
Help hulle om geleenthede te skep om ‘n ekstra geldjie te maak.  Laat hulle toe om hul sakgeld te verdien deur takies rondom die huis te doen en so ook meer takies beskikbaar te maak, sodat as hulle sou wou, meer te verdien.

Leer kinders die waarde van geld.
Dit is seker die moeilikste deel om te verduidelik. Wanneer jy self as volwassene in ‘n finansiële groef is, moet ons onsself mos afvra, “het ek die werklik nodig?” en dan op die wyse besluit wat om wel te koop en wat nie. Presies so moet kinders begin leer dat jy nie altyd net alles kan koop nie. Verduidelik vir kinders in konsepte van “nagevolge” in plaas van “keuses”. In plaas van “Jy kan of die pop koop of ‘n fliek gaan kyk” eerder “Jy het reeds ‘n pop by die huis en as jy nou die pop koop, gaan jy nie later die maand geld oorhê om saam jou maatjie te gaan fliek nie. So jy kan vir die pop spaar en dalk volgende maand koop en nog die maand gaan fliek.”

Anel Swanepoel

 Sielkundige berader (BA PSYC, PSYC HON, Play therapy, Strepco Counselling Course)

Anel Swanepoel Psychological Counselling

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *