Tegnologie Se G@t!

Deur Boetie du Plessis

Ek lees die doemprofete se voortdurende en voorspelbare uitkyk oor hoe tegnologie ons lewens gaan beinvloed en dat ons gaan moet vrede maak met die veranderinge. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die evolusie van tegnologie het groot verbetering in baie aspekte van ons bestaan gebring. Mediese verbetering, kommunkasie, vervoer, familie kontak ens., maar daar is ‘n kommerwekkende slegte kant, en ons moet pasop.

Vir my voel dit net asof ons konstante blootstelling aan beelde wat spruit uit die kreatiewe en strategiese kroon van kommersiële bermakingsspanne ons stuur na besluite wat ons nie noodwendig sou gemaak het nie.

Toe ek grootgeword het, en nou praat ek van die laat sestigs en sewentigs, was die lewe anders. Die keuses wat my ouers moes gemaak het was meer voor die handliggend.
Daar was nie die steur van tegnolgiese ingryping nie. Ons het regtig tyd saam met mekaar spandeer. Ons het mekaar geken en nie net gewag vir ons beurt om te praat nie. Ons was ook altyd buite. Ek kan onthou dat in die somer, Durbanville het daardie jare baie anders gelyk, het ons die veld ingestap elke dag. Visgevang, klippe gegooi na hekke se pale, in die dam by oom Victor se plaas geswem. Ons besluite oor die dag se verigtinge was beinvloed deur ons eie wil.

As ek my en ander kinders analiseer, dan sien ek ‘n derde party wat hulle beheer sonder dat hulle weet. Watse klere om te dra, wat is “in”, waste persoonlikheids-noks jy jouself moet plaas, eet jy graanprodukte, is jou ouers ryk?  Dit is nou behalwe hierdie moderne begeerte om almal bekend te wees, of it nou op Facebook is of nie, maar hoe die persepsie van ‘n lewe soms meer belangrik is as om dit eintlik te beleef. Byvoorbeeld, hieronder parafiseer ek ‘n onlangse gesprek met ‘n tiener.

“Hoe lank gaan Oom Boetie by die rugby wees?” vra my vriend se seun voordat ek skool toe ry.
“Ag, ongeveer twee ure. Hoekom?”
“Nee, ek wou net weet, want ek wou graag saam ry.”
“Nou, jy kan mos.”
“Nee, Oom gaan te lank daar wees, ek wou eintlik net ‘n foto gehad het waar ek langs die veld staan terwyl die eerste span speel.”

Nie te min, ek was effens deurmekaar, maar het later “geclick”.

Die simplistiese prag van ‘n makliker lewe was nog altyd vir my ‘n prioriteit. Al het die samelewing my baie keer probeer forseer om uit te ryk na oorgenoeg geld, te groot huis, onnodige nuwe bakkie, het ek altyd daarteen geskop. Ek het nie baie nie, ‘n ou selfoon en skootrekenaar. ‘n Kleinerige huisie, bietjie geld in die bank en die mooiste vrou en kinders aan my sy. Dis al wat ek nodig het.

Ek wil nie bekend wees nie. Ek wil net my ou gewone werkie doen. My Pastoor hoef nie tien boeke te geskryf het nie, ek wil nie met die druk van ‘n knoppie enige iets tot my beskikkig hê nie en ek wil verseker nie gevoelloos na foto’s van jong dames in bikini’s kyk nie, of die nuutste bleskop remedie aanskaf of selfs plastiek kitskos eet nie. Niks van dit nie.

Miskien is ek net ‘n kermende fossiel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *