Wynveiling Ten Bate Van Huis Jabes

Die rooitapyt is Dinsdagaand behoorlik uitgerol by Eensgezind Onthaalsaal, net buite Durbanville, vir ‘n wynveiling ten bate van Huis Jabes. 

In Suid-Afrika word 1 in 4 vroue emosioneel mishandel en elke 6 uur word ‘n vrou doodgemaak.  Hierdie skokkende feite, en gesprekke met vroue wat in die huis woon, moes ons gisteraand aanhoor, sodat ons kan verstaan watter groot rol Adri Klindt en haar span van Huis Jabes, ‘n toevlugoord vir mishandelde vroue en kinders in die Noordelike Voorstede, in so baie mense se lewens speel.  Huis Jabes is in 2008 gestig.  Hul bied huisvesting aan vroue en kinders wat uit huise vlug van emosionele of fisiese mishandeling.  Hulle bied nie permanente huisvesting nie, maar is ‘n toevlugsoord vir 3 tot 5 maande, waarin hulle vroue help om weer op hul voete te kom.  Hulle bied selfs mediese hulp aan.  Om hierdie huishouding aan die gang te hou kos maandeliks R83 000.00, waarvan slegs R20 000.00 aan salarisse (3 personneellede) betaal word.  R12 000 gaan aan huur.   R51 000.00 om ‘n huishouding met ongeveer 16 mense aan die gang te hou wil gedoen wees, veral as jy in ag neem dat meeste van die inwoners vlug en slegs met die klere aan hul lyf by Huis Jabes opdaag.  Huis Jabes is ‘n geregistreerde NPO en het die afgelope 8 jaar al nagenoeg 900 vroue en hul kinders gehelp.  Die visie is om ‘n huis te kan koop en nie meer te huur nie.

Die wynveiling het afgeskop met ‘n bottel Willem Stemmet Witblits en het vir ‘n allemintige R2500.00 verkoop.  Tiny van Rensburg, die baie humoristiese afslaer, het biërs op hul tone en aan die lag gehou vir ure.  Donasies van ondermeer Lanzerac, Kloovenberg en Phizantekraal Wyne is opgeveil en ‘n ongelooflike bedrag van net meer as R400 000.00 is ingesamel.  Dit was ongelooflik om te sien hoe individue en besighede, soos byvoorbeeld Gerda du Plessis en Denis Dunn van Harcourts Dunn, saamgestaan het om hierdie waardige instansie te ondersteun.

Eensgezind Onthaalsaal se kos, diens en dekor was weereens uit die boeke en die 300+ gaste het ‘n onvergeetlike aand gehad.

Indien jy nie Dinsdagaand by die wynveiling kon wees nie, maar tog ‘n donasie aan Huis Jabes wil maak, kan jy hulle webtuiste besoek by http://sostrust.co.za/  Die R400 000.00 is maar ‘n druppel in die emmer vir hierdie instansie en jul deurlopende ondersteuning sal waardeer word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *