Durbanville Kleuter Akademie Het ‘n Passie Vir Kinders

Foto Krediet:  Durbanville Kleuter Akademie & Brenda Veldtman

“Ons missie is om ‘n onderrigfasiliteit te wees wat die ontwikkeling en opvoeding van die kinders wat in ons sorg geplaas is, op ‘n bekwame en unieke manier te behartig en om die belange en welsyn van die kinders eerste te plaas met elke besluit wat geneem word…”

Hierdie is die missie van Durbanville Kleuter Akademie.  ‘n Skool waar daar gefokus word op positiewe versterkings, die bou van selfvertroue en godsdiens.

Met hul drie klassies (ouderdomme vanaf 2-5 jariges), neem die Apieklas, Goggaklas en Kabouterklas elk 20 leerders.  Elke klas het 2 gekwalifiseerde onderwyseresse (met noodhulp) wat een-tot-een tyd soveel meer persoonlik maak, aangesien daar dan slegs 10 leerders per onderwyseres is.  Elke kind het 1 keer per week ‘n assesserings tyd waar daar 100% aandag aan sy/haar vordering gegee word.  ‘n Maandelikse vorderingsverslag word huistoe gestuur.  Hierdie een-tot-een tyd is belangrik om te verseker dat elke kindjie hul mylpale bereik, vir die onderwyseres om te sien waar elkeen nog aandag nodig het en om seker te maak die seniors (Kabouterklas), is reg wanneer hulle na graad  R gaan.

“Ons onderwyseresse bou ‘n persoonlike verhouding met elke kind en ouer.  Ons standaard is baie hoog en slegs die beste word aangestel.  Ons is lief vir elke kind asof hulle ons eie is.  Ons passie is hierdie kinders.” sê Erin Lambert, skoolhoof.  “Ons is fanaties oor netheid en higiëne.  Ons leer elke maatjie wanneer om hande te was, hoe om te nies en hoes en beklemtoon hoe belangrik goeie higiëne is.”

“Ons bou eerder hulle selfvertroue en fokus meer op dit wat die kind kan doen as op dit wat hulle nie kan doen nie.  Met tyd bou ons op vaardighede waarmee elkeen nog sukkel.” sê Erin.

Fyn en groot motoriese vaardighede word aan gewerk en “wikkeltyd” is groot pret.  “Kleuterpret”  fokus op sosiale ontwikkeling – groepspel, groepwerk en kommunikasie word geleer om gesonde sosiale verhoudings met maats en volwassenes te handhaaf.  Liggaamsbewustheid, middellynkruising en die leer van nommers word elke dag gedoen.  Selfontdekking en kreatiwiteit word bevorder en verantwoordelikheidsin word gekweek.

Elke tweede Vrydag is bak-en-brou en die maats sien altyd uit hierna – Vrydae is altyd ‘n feesdag, want as daar nie gebak en brou word nie is dit koekverkoping.

‘n Groot gunsteling onder die kinders is vruggietyd.  Elke kind bring Maandae ‘n vrug en deur die week word hierdie vrugte aan hulle gegee, sodoende leer almal hoe ‘n vrug proe en verskillende teksture word gevoel in die mond (en ek glo die vingers ook!).

Weeklikse tema’s word Donderdae aan ouers gekommunikeer.  Baie moeite word weekliks gedoen met die tema’s.  Troeteldiere word selfs met troeteldier week skooltoe gebring, sodat almal geleer kan word hoe om jou troeteldier te hanteer.  Konsepte skakel ook met die weeklikse tema’s in, bv, warm of koud, grof of sag en emosies.

Middagetes word deur ‘n gekwalifiseerde kok uitgewerk en daar is ‘n groot verskeidenheid disse, sodat die kinders nie verveeld raak met die etes nie.

Instappies sorg altyd vir groot opwinding en 1 keer per kwartaal is dit tyd vir besoekers.  Hierdie jaar was die brandweer, ambulans en SPCA daar.  ‘n Kulkunstenaar het kom kuier en in November kom hou die akwarium poppekos.

 

Buite maatskappye doen sport aktiwiteite:

Ballet (Durbanville School of Dance)

Musiek (Amallegro)

Stretch ‘n Grow

RSD Rugby

Young Cricket Guns

Hierdie aktiwiteite word binne skoolure aangebied.

Elke jaar word daar ook konsert gehou en elke jaar is daar ‘n nuwe tema.

Durbanville Kleuter Akademie het nog plek vir 2018 en die fooie is soos volg:

Halfdag (07:00 – 13:00) R2110.00 per maand

Voldag (07:00 – 16:00) R2455.00 per maand

Voldag (07:00 – 18:00)  R2685.00 per maand

Vakansiesorg word aangebied, maar is ekstra.

Skakel gerus vir Erin om ‘n afspraak te maak en gaan loer ook op hul Facebook blad om te sien wat hulle alles aanvang.

021 976 4083

https://www.facebook.com/durbanvillekleuterakademie/

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *