Om Te Halloween Of Nie Te Halloween Nie

Deur Bianca

Na afloop van verlede week se Halloween feesvieringe het ek so lekker almal se menings gelees.  Dit is vir my ongelooflik hoe mense verskil.  Hoe mense kan  baklei en mekaar uitmekaar skeur – en dit oor ‘n lekkertjie.

Trick or Treat en Halloween, die onderwerp van vele argumente vir ‘n week elke jaar.

Ek probeer verstaan hoekom mense so aangaan daaroor.  Wanneer jy die duiwel in iets soek gaan jy die duiwel daarin kry.  Trick or Treat is ‘n geleentheid vir die buurt se kinders om bymekaar te kom. Pret te hê en vir ons as grootmense om ‘n slag iets vir die kinders te gee wie ons nie eers ken nie.

Halloween dag het uiteindelik aangebreek en die opwinding was groot in my huis.  Daar is vooraf aan ‘n kostuum vir elkeen beplan.  Van bloedbelope gesigte wat selfs geharde polisiemanne sou laat skrik tot die oulikste  fee’tjie met die sagste vlerkies.

Hoekom die geleentheid van my kinders wegneem om saam met die buurt se kinders rond te loop en pret te hê?  Ons mense was fantasties, oud en jonk het in die pret gedeel en soveel het hul huise versier en spesiaal aangetrek – vir die kinders.  Lekkers in oorvloed, glimlagte op almal se gesigte.  Ek het nuwe mense ontmoet.  Mense wie net nommers op ons WhatsApp groepe is.

So mense, hoekom?  Hoekom soveel sien in iets wat soveel pret vir ons almal kan wees?  Hoekom altyd die duiwel gaan uitkrap?  Hoekom iets gaan soek wat nie daar is nie?

Hoekom nie maar net die lewe geniet nie?  Op ‘n ordentlike manier?  ‘n Manier wat jy saam met bure kan lag en gesels en kan sien hoe ons kinders hulself geniet met sakke vol lekkergoed nie?  En dan los ons maar die duiwel daaruit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *