Fiela Se Kind Is ‘n Durbie!!

Hy is 12, ‘n Durbie en alreeds ‘n baie bekende akteur. Hy is Eloff Snyman, Hugo van Liewe Kersvader en Benjamin Komoetie van Fiela se Kind.
Ons het almal gedink Eloff Snyman volg is sy pa, Christo Snyman, se voetspore met sy deelname aan skoolkore en saamsing met sy pa, maar daar het nuwe deure vir Eloff oopgegaan toe hy in graad 5 (2016) by Laerskool Durbanville se dramaklas aansluit. Sy eerste optrede was in Bloed Is Dikker As Water – sy skool se optrede. Eloff het dadelik ‘n liefde vir toneelspeel ontwikkel en is deur sy ma, Danel, aangesê om te audisie vir Liewe Kersvader. “Ek het nie oorspronklik geweet dit is ‘n fliek nie, maar toe ek hoor was die idee van ‘n fliek amazing. Al die legends was baie cool.”
Hulle het vir 5 weke in Prins Albert aan Liewe Kersvader gewerk en Eloff kon die laaste 3 weke van sy 2016 skooljaar mis.
“Eloff is ‘n tipiese skoolseun wat nie van skoolwerk hou nie, maar sy skool gee hom werk vir die tyd wanneer hy weg is met filmwerk en daar is altyd ‘n volwassene saam met hom wat ‘n ogie hou” sê Danel.
Eloff vertel hy het op 7 jarige ouderdom die Tom Cruise film, Oblivion, gekyk en dadelik besluit hy wil soos Tom Cruise wees. Hy is lief vir sing, maar as hy moet kies tussen sing en toneelspeel, sal toneelspeel wen – sy pa weet dit nog nie.
Fiela se Kind is na al die jare steeds die graad 12 Afrikaanse voorgeskrewe boek en dit is vir Eloff ‘n groot eer om hierdie rol te vertolk. Hy speel teenoor die talentvolle Kapenaar, Zenobia Kloppers, wat die rol van Fiela vertolk.
Hy het Saterdag 27 Januarie 2018 ‘n video audisie gedoen (daar was honderde asprant akteurs by die audisies in Johannesburg) en Woendag 31 Januarie 2018 gehoor hy het die rol gekry. Hy en Zenobia het mekaar vir die eerste keer verlede Woensdag ontmoet. Regiseur Frans Swart het na Kaapstad gevlieg en die twee gehelp met hul woorde. Hulle het Saterdagoggend na Johannesburg vertrek en is vir die volgende 2 weke te sien by Carnival City. Openingsaand was Woensdag 07 Februarie 2018. Die optrede by die Suidoosterfees is alreeds bevestig (26-30 April 2018).
Op die vraag wat is vir hom die lekkerste van toneelspeel het hy geantwoord al die bekendes en hy doen waaroor hy mal is.
Slegste? “die kinders by die skool herken my nie met my gekleurde hare nie en die Wi-Fi in die hotel in Prins Albert het gesuck”
Net ‘n tipiese skoolseun met ‘n ongelooflike talent.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *