Dala Wat Jy Moet – Nommer 37 Film

#DalaWatJyMoet

WOW!!! Op die punt van my stoel, naelbyt en jy voel die spanning tot in jou kleintoontjie!!! Hierdie is ‘n film wat ek sal aanbeveel om te kyk. Sensitiewe kykers mag moontlik met sekere tonele ‘n probleem hê en taalgebruik is nie vir jonger kykers nie, maar die realiteit en storielyn is beslis dit werd.
Welgedaan aan elkeen wat deel was van NOMMER 37. Julle het julself oortref. Randal (Irshaad Ally), ek het saam met jou deur daardie verkyker gekyk en Pam (Monique Rockman), glo my, ek sou hom ook wou wurg.
Emmie (Danny Ross), jy was so dierbaar met die foto neem, kon nie glo daardie “loan shark” is jy nie!!!
NOMMER 37 is gebaseer op die SAFTA-bekroonde kortfilm met dieselfde naam, waarvan Nosipho Dumisa en Travis Taute die regisseurs was. Dumisa het sedertdien die draaiboek aangepas en die regie behartig van ’n vollengte speelfilm-weergawe hiervan. Dit speel af in ’n fiktiewe woonstelblok, Haven Mansions, in haar weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlaktes. Dit vertel die verhaal van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel-en woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Die rolprent is vervaardig deur Gambit Films, in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word plaaslik op 1 Junie 2018 vrygestel deur Ster-Kinekor Entertainment en sal ook internasionaal versprei word deur XYZ Films. Na die suksesvolle ontvangs wat Nommer 37 by die SXSW-rolprentfees in Austin gekry het, het Dark Star Pictures onlangs die eksklusiewe Noord-Amerikaanse-verspreidingsregte vir die film bekom. Dit sal in bioskope in Los Angeles en New York vrygestel word gedurende herfs in Noord-Amerika.


Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon en Amrain Ismail-Essop is ook in die fliek te sien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *