WAT IS JOU STYL? DEEL 3

Deur Unlabelled Mama

“It takes all kinds to make the world go round”.

Dit is beslis ook waar in die wêreld van wyn. Kom ons kyk na die laaste van ons wyn-drink style!

Blikbeker –bulle: Hierdie manne (uit ondervinding weet ek dat dit gewoonlik die manlike geslag is) ry gewoonlik ‘n groot 4×4 bakkie. Iewers in daai bakkie is daar ‘n blikbeker wat al jare lank daar “gebêre” word. Kom hierdie blikbeker-bul by ‘n geleentheid waar hy wyn sien en hy het nie ‘n glas nie, bring hy trots sy blikbeker te voorskyn. Sonder om te blik (letterlik en figuurlik) of te bloos, stof hy die blikbeker af en hou hy sy beker uit dat daar vir hom ook geskink word. Hy vra nie of dit wit, rooi, pienk of blou is nie. Solank hy saam met die res ‘n bekertjie wyn kan geniet is hy tevrede. Hierdie man geniet uit sy blikbeker enige iets van ‘n Altydgedacht Gewurtztraminer tot ‘n Zevenwacht Tin Mine Red en as daar ‘n vleisie op die vuur is, het die blikbeker- bul ‘n glimlag op sy gesig!
Budget-beaters: Prys. Dit is die enigste oorweging vir hierdie groep drinkers-vriende. Kultivar, kleur, naam, selfs smaak, is irrelevant. Hoe goedkoper, hoe beter. As hulle ‘n bargain kry koop hulle kiste vol wyn, genoeg om hulle te hou tot by die volgende “goeie deal”. Jy kan jou bes doen met argumente dat kwaliteit beter is as kwantiteit en waarskuwings oor “goedkoop – wyn – hoofpyn”. Jy gaan nie wen nie. Een ding waarvan jy dalk net moet kennis neem is dat die budget-beaters nie dieselfde filosofie volg wanneer hulle by jou kuier en van jou wyn drink nie. O nee! Dan drink hy soos ‘n connoisseur saam aan jou dure, dure wyn! Waarmee hou die budget-beater sy glas vol? Met wat ookal hy teen die grootste special kan kry, enige iets van ‘n bottel unlabelled export overrun wyn tot…………nope, dis dit, goedkoper gaan jy nie kry nie.
Die op-toppers: Wanneer jy weer by ‘n werksfunksie of ‘n 40ste verjaarsdag partytjie kom moet jy bietjie dophou. Jy sal vinnig-vinnig die op-toppers uitken aan die feit dat hulle glase ALTYD vol wyn is. Jy sal nooit ‘n op-topper sien sonder ‘n vol glas wyn nie. Hulle geheim? Hulle top hom die hele liewe tyd op. Ek moet bieg, ek het al van tyd tot tyd gewonder of hulle ooit sou agterkom as jy ‘n ander wyn as wat in hulle glas is vir hulle sou bygooi……… dalk ‘n eksperiment vir die volgende werksfunksie? Hulle geniet hulle wyn en vir hulle is die glas beslis altyd half-vol! Hulle drink gemaklik aan ‘n Stettyn Stone Red of Stone White, of dan nou enige iets waarmee hulle die glas kan op-top!
Maak nie saak of jy en jou vriende en vriendinne ‘n bubblie, ‘n rubber-arm, of ‘n budget-beater is nie. Solank jy jou glasie wyn verantwoordelik geniet, dit in goeie geselsskap doen en jou glas altyd half-vol is, is die saak reg!

“When in doubt, add more wine!”

https://www.facebook.com/winecrazy/?ref=br_rs

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *