Laat hom toe om deur die binnekamers van jou hart te loop

Februarie is nou verby en die 14de is lankal vergete… vir sommiges. Dit word bemark as die maand van liefde, maar tog het almal gemende gevoelens oor die maand en meer spesifiek, Valentynsdag.

Dit skep verwagtinge.
Ek gaan nou maar self as ‘n vrou erken dat ons beslis ‘n ander spesie is. Sê ons een ding, bedoel ons eintlik iets anders en net sodra jy dink jy’t daardie reël onder die knie, bedoel ons weer presies wat ons sê. Dit is immers dan nie anders met Valentynsdag nie. Jy sê dalk aan jou ander helfde dat hy nie ‘n geskenkie moet gee nie, nie moeite hoef te doen nie of dat die dag ‘n “clichè” is en dat julle die hele jaar lank aan mekaar julle liefde moet wys en nie net op een dag nie. Die realiteit, aan die anderkant, is dat die verwagting wel daar is.

Verwagtinge is nie ongegrond nie.
Soos Kersfeesliedjies wat al twee maande voor die 25ste Desember in die winkels speel, sien mens rooi vir omtrent ‘n maand lank. Die belaglike pryse van die ooglopende goedkoop wit beertjies wat “I love you” hartjies vashou, die plastiek rose met waterdruppels en soms smaaklose hartjie tjoklits is ‘n konstante herinnering dat die mooi bedoeling van die dag en dit wat gevier moet word, langs die pad van die wa afgeval het. Ongelukkig verhoed dit ons, as vrou, nie om steeds die mooi te onthou en daardeur die hoop te koester dat manlief dalk langs die pad ‘n blommetjie pluk, omdat hy ook die mooi van die dag onthou, nie.

Die aand sit ons bietjie meer moeite en liefde in die maak van die kos, sit dalk bietjie mooier grimering op en reël dalk selfs dat die kinders by ouma kan bly en so is die verwagting daar dat manlief dieselfde as jy dink. Die verwagting dat hy ook sal besef dat die lewe besig is en as mens èèn dag het wat spesifiek uitgesit is om die liefde te vier, julle dan mos maar so klein bietjie moeite kan doen, daai blommetjie kan pluk en die dag dan benut.

Verwagtinge maak spasie vir teleurstelling.
So sit en wag ons in spanning vir die ander helfde om deur die deur te stap en die liefde saam jou te vier, miskien met ietsie in die hand of dalk op sy eie spesiale manier, maar so kry jy eerder die “Whatsapp” boodskap dat hy laat gaan werk of hy stap by die deur in en kom nie eens agter jy’t vanaand meer moeite gedoen nie. Jy wend dalk nog vir ‘n wyle die poging aan om sy aandag te trek, hom te herinner dat dit Valentynsdag is en so bietjie te “skimp”… en so, word die verwagting vervang met teleurstelling (wat meestal manifesteer as woede). So draai ‘n dag en aand, wat bedoel was om iets mooi’s te wees, heeltemal anders uit.

Hoekom teleurstelling?
Teleurstelling ontwikkel wanneer ons aanneem ander weet wat in ons “inner world” – die deel van jou onderbewussyn, wat jou maak wie jy is – aangaan. Die deel bevat al ons behoeftes en begeertes en net ‘n klein deel daarvan word aan ander mense blootgestel. Hoe minder intiem die verhouding, bv. werkskolegas, hoe minder word dus ontbloot. Ander om jou en so ook jou ander helfde, gaan dus slegs weet wat in jou binnekamer van jou hart aangaan en wat dit is wat jy nodig het, indien jy dit vir hulle wys. Deur openlik en reguit hieroor te wees, kan teleurstelling tot ‘n mate voorkom word.

Laat hom toe om deur die binnekamers van jou hart te loop.
Hier is die kruks van die saak, elke persoon het sekere behoeftes of “needs” wat hulle geliefd laat voel. Meeste van ons het al gehoor van die liefdestale, maar dit is net ‘n druppel in die emmer en jou binnekamers nie so eenvoudig nie . Die emosionele behoeftes wat elke individu in ‘n verhouding benodig, verskil natuurlik nes elke individu verskil en daarom gaan jou ander helfde nie net wèèt wat jy benodig tensy jy dit reguit vir hom sê nie. Geen skimpe, doekies omdraai of op enige ander wyse as om blootuit net te sê: “Ek het dit nodig dat jy meer tyd saam met my spandeer”, “Hou asseblief my hand meer vas”, “Dis vir my belangrik om te hoor as jy iets waardeer wat ek doen”, “Ek dink ons kan dalk die mooi van Valentynsdag vier en iets spesiaal vir mekaar doen.”

Ongelukkig is ons nie altyd bereid om die werking van ons binnekamer so reguit en openlik te erken nie. Die wêreld het ons laat glo dat dit selfsugtig is om oor jou eie behoeftes te praat, dit te noem en so ook om dit van ‘n ander persoon te verwag. Nou is die vraag net, hoe gaan jou ander helfde dan bewus wees van wat jy nodig het? Hy of sy mag dalk al die empatie in die wêreld hê, jou soms beter verstaan as wat jyself dink jy doen en die sensitiefste siel onder die son wees, maar as jy nie jou behoeftes openlik kommunikeer nie gaan julle iewers verby mekaar begin leef.

Kwesbaarheid verhoed ons ook om sommer net so ons binnekamer met iemand te deel. “Wat as hy nie luister nie? Wat as ek die intieme dele van myself aan hom blootstel en hy dan nie sy kant bring nie? Wat as ek myself so blootstel en ek net mèèr teleurstelling ervaar?” Ons kan op die einde van die dag slegs vir onsself dink en keuses maak en so moet die ‘n bewuste keuse wees waar al jou opsies opgeweeg is.
‘n Verhouding bly maar soos ‘n tennisspel. Jy slaan die bal en moet dan wag dat hy terugslaan, jy vertel vir hom wat jy benodig, maar dan is die bal in sy hande en dit is dan sy keuse of hy aan jou behoeftes wil voldoen of al dan nie, maar hy kan nooit terugslaan tensy jy nie reeds die bal na sy helfde toe geslaan het nie.

Vat die kans. Slaan die bal. Speel die spel.

Anel Swanepoel

Sielkundige berader (BA PSYC, PSYC HON, Play therapy, Strepco Counselling Course)

0829416243

www.psyccounselling.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *