Jong Durbie Wen Argus

Hendré de Villiers, graad 6 leerder van Laerskool Durbanville, is besig op groot opslae in die bergfietswêreld te maak.

Saterdag 25 Februarie 2017 het hy tweede gekom by XCO en Saterdag 04 Maart 2017 wen hy die 20km Cape Town Cycle Tour MTB reeks in ‘n tyd van 1:02:07, Liam Brien was tweede met ‘n tyd van 1:02:08 en De Wet Coetzee het derde ingekom met ‘n tyd van 1:03:47.

Ons het Hendré gevra hoe hy gevoel het toe hy besef het hy was eerste, “bly!” was sy antwoord. Hy sê hy was baie rustig en het dit meer as ‘n oefensessie gesien vir die volgende XCO resies op 1 April, maar toe hy eers aan die gang gekom het en sy bene sterk gevoel het op die laaste 5km het hy besluit om vir die wen te gaan.

Sy ma, Adelle de Villiers, se antwoord het verskil, “Altyd eers verlig en dankbaar dat hy veilig terug is. MTB het baie risikos en aangesien Hendré ‘n asmalyer is en al deur ‘n hond aangeval is tydens oefening, is dit maar stresvol en hou my op my kniee! Die Argus was ‘n ekstra spesiale dag… Hendré het op 4 Maart 2006 ‘n 7-ure operasie ondergaan om sy skedel te herstel, so Saterdag 11 jaar terug was die moeilikste 7 ure van my lewe. Ek het nie geweet of hy ooit normaal sou wees soos ander kinders nie en of hy eers sport sou kon doen nie. Ek was nogal emosioneel toe hy opgeroep is podium toe, bos blomme ontvang het en toe die blomme vir my gebring het.”

 

Hy het begin met BMX toe hy 5 jaar oud was en MTB om en by 4 jaar gelede. Hy het ook padfiets probeer en sien uit daarna om in 2017 te mag deelneem aan die WP Enduro reeks (deelnemers moet 12 raak in die jaar van deelname).

Sy voorbereiding vir hierdie seisoen het Desember alreeds begin en hy het die hele vakansie geoefen (4 -5 keer ‘n week). “Jy kan dink dit was maar nie altyd maklik nie, terwyl ander pelle net kon speel moes Hendré nog oefen ook.” Sê Adelle. ‘n Week voor ‘n belangrike wedren ry hy rustiger as gewoonlik. Twee weke voor die tyd se oefening is baie belangrik en oefen hy omtrent elke dag.

Gelukkig kan Hendré sy eie oefentye bepaal en dit maak beplanning rondom huiswerk en ander verpligtinge makliker.

Ek wou weet wat XCO nou eintlik is. “Cross Country Olympic, dit is die enigste MTB dissipline by Olimpiese Spele. Ryers ry ‘n baie meer tegniese baan en ry ‘n aantal rondtes afhangende van hul ouderdoms groep. Hulle ry ook streng in hulle eie ouderdomsgroepe. Dit is baie ondersteuners vriendelik en opwindend. Die pas is baie vinniger as XCM. XCM is Cross Country Marathon. Dit is basies ‘n langafstand MTB waarvan die Argus een van honderde wedrenne op die Suid-Afrikaanse kalender is.” Verduidelik Adelle.

XCO is Hendré se eerste liefde, hy is mal oor die intensiteit daarvan. Daar is ‘n provinsiale, nasionale en internasionele reeks en aan die einde van die seisoen is daar kampioenskappe. Die SA Beker waarin hy tweede gekom het was die eerste uit vier van die SA Beker Reeks, waar ryers van reg oor die land meeding teen mekaar. Die toppunt vir al die XCO ryers is die SA Kampioenskappe in Julie elke jaar!!

Hendré is ook vanaf einde 2016 ambassadeur vir Silverback. Hulle doen baie vir hom en die sport.

Sy rolmodel is Nino Schurter, XCO Wêreldkampioen en Olimpiese Spele 2016 wenner. “Nino is plat op die aarde, mal oor mense en die beste XCO ryer!” antwoord Hendré. Wil my voorkom net soos hy self.

Hooffotokrediet: Wally van der Walt

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *