Kommunikeer Met Jou Fotografie

Visuele kommunikasie is vir my ongelooflik interessant. Mense grap altyd dat mens mos net “mik en druk”, maar fotografie het ook baie te doen met hoe die menslike brein werk. As mens met die blote oog na ‘n landskap of toneel voor jou kyk, sal jou brein vinnig probeer sin maak van die toneel en die interessantste voorwerpe en elemente raaksien. Aan die ander kant neem die kamera bloot alles wat voor die lens geplaas word af. Dit kan ‘n warboel van elemente en verwarring by die kyker tot gevolg hê. Dit is hoekom dit nie net oor die kamera gaan nie, maar oor die persoon agter die kamera. Dit gaan oor hoe jy as fotograaf die wêreld sien en die visuele elemente, fotografie reëls en tegnieke gebruik (of verbreek) om iets spesifieks vas te vang en te kommunikeer.

In fotografie is daar ñ hele paar reëls wat mens kan gebruik om jou foto’s meer interessant te maak en die kyker se oog te lei na dit wat belangrik is. Daar is so baie, maar ek noem gou ‘n paar!

Komposisie speel natuurlik ñ groot rol in fotografie (soos in ander visuele kunste). Dit is altyd beter om van die begin af reg te neem as wat jy na die tyd moet crop of te veel tyd mors op editing. Mens verloor ook tog kwaliteit elke keer wat jy moet crop.

Meeste mense, selfs al is jy nie ñ fotograaf nie, het al van die reël van derdes gehoor. Maklik opgesom deel jy jou prentjie in derdes of 9 ewe groot blokkies op (net min of meer), deur 4 denkbeeldige lyne deur jou foto te visualiseer. Twee vertikaal en twee horisontaal. Jy plaas dan jou belangrikste elemente op een van die lyne of op die plekke waar die lyne kruis. Jy kan bv. jou horison op een van die horisontale lyne plaas ipv. in die middel van jou foto. As jy bv. jou hoof voorwerp links plaas kan jy dalk probeer om nog een of twee kleiner elemente op van die ander lyne (of in van die ander kwadrante) te plaas om die foto uit te balanseer. As jy bv. ñ persoon afneem kan jy hom of haar links in die foto plaas, maar dat hy of sy na regs kyk (in die foto in) of andersom.

Dan is daar weer kere wat jy dalk reeds jou voorwerp of onderwerp presies in die middel van die foto wil sit bv. ‘n portret van ‘n persoon wat presies in die middel van die foto staan en reguit in die kamera in kyk, of ñ oop plaashek in die middel van ‘n landskap met ñ pad wat jou in die foto in lei. Dit bring ons ook dan by lyne…

Die wêreld is vol lyne. Reguit, gekrul, diagonaal, zig-zag, radiaal ens… jy kan lyne en vorms gebruik om die kyker se oog in jou foto in te trek, deur jou foto te lei of selfs in jou foto te hou as jou lyne miskien ‘n driehoek vorm (ek dink bv. aan Renoir se baie bekende skildery: “Luncheon of the Boating Party”).

Die rigting waarin die kyker se oog gelei word kan ook ‘n spesifieke gevoel of emosie skep (regs na links sal bv. by meeste Westerse mense glo ‘n gevoel van ongemak skep, omdat ons van links na regs lees en nie so gemaklik voel met regs na links nie. Die tegniek word ook baie in films gebruik, veral rillers net voor jy skrik!).

Nog ‘n interessante reël is die reël van ongelyke getalle wat basies sê dat dit interessanter en visueel beter is om bv. drie voorwerpe in ‘n foto te hê as twee of vyf as ses. Die menslike oog soek glo die middelpunt van twee voorwerpe. Maw. as jy net twee voorwerpe (of ‘n gelyke getal voorwerpe) in jou foto het gaan die kyker se oog dalk op ‘n leë spasie val. Interessant nê?

Soos wat ek laas week gesê het moet jy jou fotografie reëls ken, maar ook nie bang wees om hul te verbreek nie. As jy voel jy wil iets spesifieks kommunikeer of voel dit “werk” om dit in daardie spesifieke geval anders te doen – go for it! Jy moet gaan op wat vir jou reg voel of lyk. Elkeen van ons kyk anders en dit is wat dit so spesiaal maak.

Volgende week gesels ek onder andere oor simmetrie en balans!

Brenda Veldtman
Brenda Veldtman Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *