Simmetrie En Balans

Soos belowe gesels ek die week bietjie oor ‘n paar maniere om balans in jou fotos te kry.

Die eerste manier is deur simmetrie, waar een kant van jou foto presies soos die ander kant lyk, sou jy ‘n lyn deur jou foto trek. Volgens die kenners vind die menslike brein harmonie in patrone en struktuur. Gebruik onder andere spieëls, water, lig en skadu’s om simmetrie te verkry. Daar is soveel simmetrie in argitektuur en mensgemaakte dinge, maar ook in die natuur (bv. ‘n laning bome wat in ‘n dam weerkaats of vensters en pilare van ‘n gebou).

Asimmetriese of informele balans kan ook verkry word deur elemente in jou foto te gebruik om die effek van simmetrie te skep (bv. deur middel van lyne of vorms te gebruik wat dieselfde lyk).

In foto’s dra donker dele of skadu’s gewoonlik meer gewig as ligter dele. Probeer om donker voorwerpe of skadu’s met ligte areas uit te balanseer. Veral in swart en wit foto’s is dit belangrik dat jou swart, wit en grys dele gebalanseerd is. Omdat donker of swart elemente swaarder vertoon as die ligter dele, moet dit gewoonlik ‘n kleiner area opneem as die ligter dele. As jy bv. ‘n paar donker of swart voorwerpe in die voorgrond het kan jy dit met ‘n groter area wit of ligter voorwerpe in die agtergrond uitbalanseer. In ‘n kleurfoto kan jou helder kleure (of kleure wat die meeste aandag trek soos ‘n helder rooi) uitbalanseer deur ‘n ligter kleur (of minder helder kleur).

Proporsies kan ook gebruik word om asimmetriese balans te verkry (bv. twee kleiner voorwerpe aan die regterkant van die foto wat uitgebalanseer word met een groot voorwerp links).

Daar is nog soveel dinge wat ek kon noem, maar dink ek moet vir eers weer hier stop. Dit is goed om van hierdie visuele beginsels te weet en dalk aan die begin een vir een bietjie in te oefen bloot omdat dit so interessant is en jou sal help om beter foto’s te neem. Verder glo ek dat mens ook jou gevoel en intuïsie moet vertrou.

Ek wil graag volgende week bietjie gesels oor iets wat baie na aan my hart lê en dit is hoe om mense af te neem. Elke persoon kan fotogenies wees (veral as die fotograaf hul op hul gemak laat voel en weet waar om te staan 😉)

Brenda Veldtman
Brenda Veldtman Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *