Natuurlike Portretfoto’s: Deel 2

Vandag deel ek ‘n paar laaste wenke oor hoe om mense af te neem. Daar is nog so baie wat ek nie genoem het nie of dalk nie aan gedink het nie. Elke fotograaf het sy of haar eie spesiale wenke wat hul sal kan byvoeg en daarom is dit goed om met ‘n klomp fotograwe te gesels en te kyk wat hulle doen. Vandag wil ek net nog so paar laaste goedjies van my kant af noem…

Wat jou kamera se instellings betref is dit goed om teen ‘n redelike vinnige sluiterspoed te skiet as jy mense afneem, omdat hulle beweeg en hul oë knip ens. Probeer om nie laer as 1/125ste van ‘n sekonde te gaan nie. As jy meer lig nodig het kan jy altyd jou ISO verhoog of jou lensopening groter oopmaak.

My gunsteling lens vir portrette is my Canon EF 70 – 200mm f/2.8, omrede hy so ‘n veelsydige lens is. Ander fotograwe is weer mal oor hul 50mm f/1.8, daar is soveel opsies. Dit hang als af van die situasie en jou styl.

Wat jou lensopening betref – hoe kleiner die getalletjie hoe groter die lensopening en hoe meer kan jy die agtergrond uitgooi…maw as jy bv. f2.8 skiet sal jou agtergrond meer uit fokus wees as wat jy f8 skiet. Dit maak nie saak met watter lens jy skiet en of jy Canon of Nikon skiet nie, dit is lekker om ‘n lens te hê waarmee jy jou agtergrond kan blurr sodat die persoon wat afgeneem word amper uit die foto “uit spring” (hoop dit maak sin!). Ander kere wil mens dalk weer reeds meer van die agtergrond insluit (soos met ‘n omgewings-portret) en kan jy bv. liewers f8 skiet.

Wanneer dit kom by mense afneem is die lig en tegniek natuurlik baie belangrik, maar op die ou einde het ‘n goeie portret baie te doen met die persoon wat afgeneem word, die oomblik en die persoon se uitdrukking. Verlede week het ek baie gepraat oor hoe om iemand spontaan te laat glimlag of lag vir ‘n foto, maar mense hoef ook nie altyd te glimlag nie.

Ek hoop bogenoemde help so bietjie. Ek sluit af met ‘n paar van my gunsteling portret-fotograwe. Daar is natuurlik te veel om te noem, maar gaan Google asb hul werk as julle ‘n kansie het. Dit maak nie saak of jy nou ‘n aspirant fotograaf is of net beter foto’s van jou eie familie wil neem nie. Die fotograwe se werk is soms ernstig, maar ongelooflik inspirerend:
Steve McCurry, Annie Leibovitz, Jimmy Nelson, Dorothea Lange, David Goldblatt, Jürgen Schadeberg en James Nachtwey.

Dankie vir die lees julle. Mooi lig en lekker skiet!

Brenda Veldtman
Brenda Veldtman Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *