Lekker Sosiale Foto’s

‘n Vriendin het my gevra om hierdie week bietjie te skryf oor hoe om beter sosiale foto’s te neem. Jy is bv. ‘n gas by ‘n troue en jy wil van die ander gaste afneem…

Van die mooiste sosiale foto’s kan alreeds geneem word voor die funksie of met die “pre-drinks”. Die lig is gewoonlik dan nog mooi en mens kan wegkom sonder om ‘n flitslig te gebruik. Veral as jy nie ‘n gevorderde kamera het nie is dit goed om die “pop-up flash” so ver moontlik te probeer vermy en met natuurlike lig te skiet. Die bruidspaar sal ook dankbaar wees dat jy hier neem, want dit is dikwels ‘n deel van die troue waar die professionele fotograwe nie altyd by kan uitkom nie (omdat hul dan gewoonlik besig is met die familiefoto’s en paartjie se foto’s).

Binne die saal is dit ‘n goeie idee om sommer ‘n paar mooi sosiale foto’s te kry voor die mense begin eet en die tafels nog mooi lyk (en grimering en hare nog perfek is). Daar is natuurlik plek vir lekker lawwe foto’s later die aand ook! Ek vind mense raak meer kreatief hoe later dit raak…;-)

As jy bv. spesifiek almal by die tafel wil afneem, kan jy die mense aan die een kant vra om op te staan en agter die ander mense wat steeds sit te kom staan. Dit help om dit so te doen, sodat jy almal mooi kan sien, veral as daar ‘n groot ruiker blomme op die tafel is. Verder help dit ook om enige steurings in die voorgrond uit te skakel (soos wynglase, sleutels en selfone op die tafel).

Vra die mense om bymekaar in te haak of as hul groeie vriende is mekaar te omhels of hande op die skouers te sit. As dit mense is wat jy goed ken sal hulle tien teen een dit vanself doen, maar partykeer moet jy net die mense so bietjie rigting gee as hulle ongemaklik lyk. Neem so twee of drie foto’s na mekaar net om seker te maak dat almal se oë oop is en almal mooi glimlag. Nou is ook jou kans om een van my ander wenke toe te pas waar jy net-net oor die kamera vir die mense loer net voor jy neem om hul te laat lag!

Persoonlik is ek nie mal daaroor om te veel mense in ‘n foto te plaas nie en probeer ek nooit meer as 4 tot 5 mense in ‘n foto te kry nie. Dit werk ook lekker om die vriende en paartjies af te neem net daar waar hulle sit of staan en kuier. Vra die mense om hulle koppe so bietjie nader aan mekaar te sit of in dieselfde “lyn”. Dit help dat almal mooi in fokus is (veral as jy met ‘n redelike basiese kamera skiet). Baie selfone het deesdae “portraiture” mode wat lekker werk, so gebruik dit as jy kan.

As jy sien dat die flitslig die mense oorbelig kan jy net so ‘n halwe tree terugstaan. As daar mense met brille is kan jy hul dalk vra om dit af te haal of net so tikkie op die neus te “tilt”. Dit help oor die algemeen vir weerkaatsing. Probeer om nie mense voor of naby ‘n muur te laat staan nie, want direkte lig van jou flits kan ‘n lelike skadu teen die muur gooi.

As jou flitslig bietjie meer gevorderd is sal jy sien dat daar so ‘n plastiek skermpie is wat jy kan uittrek. Dit is daar om die lig eweredig te versprei. So, as jy mense afneem, kan jy jou flitslig teen ‘n hoek van 45 grade stel en die plastiekkaartjie gebruik. Dit help om die lig meer eweredig te versprei, is sagter op die vel en sal minder skadu’s maak. As julle in ‘n saal met lae wit plafonne kuier, werk dit lekker om die flitslig sommer direk na die dak te wys dat die lig eerste van die dag af bons.

Hoop bogenoemde help so bietjie en dat julle volgende keer die bruidspaar kan verras met nog so paar mooi bonus foto’s!

Brenda Veldtman
Brenda Veldtman Fotografie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *