Van Der Merwe Op Die Silwerdoek!

Hoeveel Van der Merwes is nodig om ’n troue te stop? Dalk net een. Dis te sê as hy dit hierdie een keer kan regkry. Maak gereed en hou styf vas aan al jou stereotipes, want die onderwerp van Suid-Afrika se gunsteling-grappies kry lewe in hierdie splinternuwe komedie oor die buiteperd. Ten volle toegerus met sy wanopvattings, vooroordele en kenmerkende onvermoë om suksesvol te wees, gaan Van der Merwe jou laat lag, huil, en ineenkrimp wanneer hy probeer om ’n moeilike situasie reg te stel, en ’n groot gek van homself maak, terwyl hy daarmee besig is. Sy liefdevolle vrou, beeldskone dogter, en statige aanstaande Britse skoonseun sal jou amper laat glo dat sy geluk besig is om te draai… of is dit?

 

Elke land het iemand met wie hulle spot. In Ierland is dit Paddy, in Israel is dit Hymie en in Suid-Afrika, is daardie persoon Van der Merwe… hierdie storie gaan oor hom. “Ek wou ’n fliek maak oor ’n enkele karakter, soos ‘Ace Ventura’ of ‘Zoolander’, maar met ’n Suid-Afrikaanse aanslag. Van is deel van ons kultuur, ’n karakter met wie ons almal kan vereenselwig. Hy het ’n geskiedenis en ’n plek in ons harte. Om aan hom lewe te gee, op die grootskerm, is iets wat almal graag wil sien” sê regisseur en draaiboekskrywer, Bruce Lawley oor VAN DER MERWE – sy eerste vollengte film.

Vervaardigers Craig Jones, Bruce Macdonald, Murray Macdonald en Bruce Lawley bring ’n splinternuwe, tong-in-die-kies familiekomedie na die grootskerm, met Rob van Vuuren (Van) en Reine Swart (Marike) in die hoofrolle. VAN DER MERWE, wat afspeel op ’n plaas in Suid-Afrika, vertel die verhaal van Van se dogter, Marike, wat terugkeer na ’n oorbrugingsjaar in England. Maar sy is nie alleen nie. Haar verloofde, George, ’n Britse mediese student is aan haar sy. Dit skep die perfekte geleentheid vir talle probleme en uitdagings. Van moet nie net daarmee vrede maak dat sy enigste dogter met ’n Engelsman gaan trou nie, maar word ook deur sy moeilike, tradisionele pa beveel om dié verhouding te beëindig. Dit plaas hom in ’n baie stresvolle situasie en los hom met ’n moeilike besluit: staan hy op teen sy pa en aanvaar die troue… of gehoorsaam hy sy pa, wie se goedkeuring hy bittergraag wil hê, se bevel wat kan beteken dat hy sy dogter vir altyd kan verloor. Wanneer die aanstaande Britse skoonfamilie opdaag, word daar behoorlik kop gestamp. Dit ontaard in ’n kultuurstryd en lei tot verskeie kantkies-insidente en ander skreeusnaakse gebeure, wat lewe gee aan die klassieke Van der Merwe-grappies wat ons almal so goed ken.

Volgens Bruce, is die draaiboek vir VAN DER MERWE reeds in 2005 geskryf. “Ons ken almal die grappies, maar wie is die man agter die mite? Watter soort mens moet iemand wees en hoe moet hy optree om die onderwerp van almal se grappies te wees? Dit is waaroor die storie gaan. Op ’n dieper vlak gaan die rolprent daaroor om verskille te oorkom, eie te bly aan wie jy is en nooit op te gee nie, ongeag wat die omstandighede mag wees.” Alhoewel hy die oorlede grapjas, Bill Flynn, in gedagte gehad het toe hy Van se karakter geskep het, glo Bruce dat Rob van Vuuren (Shucks! Your Country Needs You) die perfekte kandidaat was om die rol van hierdie grap-ikoon te vertolk. “Ons het ’n akteur gesoek wie se komiese tydsberekening, in terme van die fisiese komiese aspekte en dialoog, perfek moes wees. Rob is ’n uitsonderlike akteur en baie professioneel. Hy is ongelooflik snaaks en het die regte mengsel van hart en humor na die rol gebring. Hy was vasbeslote om ’n onvergeetlike en ikoniese karakter te skep en was bereid om alles in die stryd te werp om dit reg te kry. Hy het ook die interessantste gesigsuitdrukkings, ekspressiewe oë en ’n speelse geaardheid – die perfekte bestanddele om Van se karakter weer te gee.”

Hierdie ligsinninge prent kry lewe met behulp van ’n verskeidenheid interessante karakters, wat spesiaal geskep is om Van se tekortkominge te beklemtoon. Bekende aktrise, Chanelle de Jager, vertolk die rol van Van se vrou, Suzette, wat vasberade is om die situasie te red. Ian Roberts speel die dominerende Oupa Van, wat beslis die gehoor se aandag sal trek. Ander akteurs wat in die fliek te sien is, sluit in Adrienne Pearce, André Jacobs, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Benedikt Sebastian, Matthew Baldwin, Neels van Jaarsveld en Melt Sieberhagen om maar net ’n paar te noem. Kurt Darren maak ook ’n gasvertoning as ’n sanger by die troue en Barry Hilton speel die rol van Freddie, die kroegman en Van se beste vriend.

“VAN DER MERWE is ’n goedvoel-fliek. Ons wil hê dat mense die bioskoop moet verlaat met ’n glimlag en die positiewe boodskap dat alles oukei sal wees, ongeag van jou omstandighede of tekortkominge. Maar dan moet jy vir jouself kan lag. Jy kan die lewe nie te ernstig opneem nie. Bly getrou aan wie jy is, moenie moed opgee nie en hou altyd aan met glimlag,” meen Lawley.

VAN DER MERWE beloof om kykers te laat skaterlag met skreeusnaakse familie- en kultuurkonflik, ongemaklike situasies, en katastrofes wat die Van der Merwe-titel meer as gestand sal doen. Dié rolprent word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal landswyd vrygestel word op 28 Julie 2017.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/vandermerwefilm/
Twitter: @vandermerwefilm

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *