Bernadette Dippenaar – Ons Nuwe Fotograaf

 

Durbanville at Home het my genooi om vir die volgende paar weke my storie oor en passie vir fotografie met julle te deel. Ek vermoed ek is dalk ‘n baie beter fotograaf as skrywer, maar ek is so lief vir wat ek doen, dat ek laf genoeg was om te sê “yes’! Ek sal my bes probeer om blogging nie heeltemal te breek nie.

Ek is Bernadette Dippenaar (BE Photography), ‘n vryskut fotograaf in die Tygervallei area.

My liefde vir fotografie het ontwikkel as kind. My pa het sommer al kleindag vir my ‘n kamera in die hand gegee en geleer om saam met hom foto’s te neem. Ek onthou nog hoe passievol hy was oor die belangrikheid van beligting en die regte agtergrond. In die dae van film fotografie moes ‘n mens jou foto uitleg, tydsberekening en samestelling alles in die oomblik beplan. Dit was baie anders as die digitale era, want jy was beperk tot 36 foto’s per spoel. Editing programme het nie bestaan nie. Ek en my pa het ure saam kwaliteit tyd agter die kamera spandeer en geoefen om hierdie delikate balans reg te kry en so is my liefde vir fotografie gebore.

Ek het fotografie as ‘n stokperdjie geniet. Na die geboorte van my dogter het ek voltyds fotografie begin beoefen. Ek het begin met studio fotografie en later uitgebrei en familie fotosessies ook begin doen. Toe die troufotografiegogga my eers gebyt het was die spreekwoordelike koeël deur die kerk! Vandag, 13 jaar later, is ek versot op my loopbaan en verruil dit vir niks.

Behalwe vir die klein kursus of werkswinkel hier en daar het ek geen formele opleiding in fotografie nie (ek is eintlik ‘n gekwalifiseerde Menslike Hulpbronne Bestuurder). Buiten Google en You Tube tutoriale het ek die voorreg gehad om te skadu by ongelooflike talentvolle fotograwe oor die jare, daardie kennis is meer werd as enige boeke kennis.

Vandag spesialiseer ek in trou fotografie, leefstyl fotografie (gesinne, paartjies, swangerskap fotografie ensomeer) en portret fotografie, maar ek het al feitlik enige iets denkbaar afgeneem, omdat ek nie die uitdaging van fotografie kan weerstaan nie. Gastehuise, dansers, vertonings, produkte en modelle. Die voordeel van die fotografieindustrie is dat dit so ‘n diverse verskeidenheid bied.

Ek is ‘n gebore ekstrovert en is in my element wanneer ek nuwe mense ontmoet en nuwe plekke ontdek. Daar is nooit ‘n vervelige oomlik in hierdie industrie nie en dit is hoe ek daarvan hou. Omdat ek ‘n passie vir mense het geniet ek dit om om my ervaring met ander te deel.

Ek het ‘n leeftyd van staaltjies bymekaar gemaak, sommiges sal jou laat huil van die lag en ander weer ‘n knop in die keel gee. Dit is presies waarom ek so lief is vir fotografie – ek het ‘n geleentheid om te deel in die werklike oomblikke van soveel mense. Die liefde in oorgawe van ‘n paartjie op hul troudag, die blosende geluk van ‘n swanger mamma, die rou emosie van ‘n mamma wat die eerste keer haar baba vashou – ek vang elkeen van daardie emosies vas, verewig. Dit is ‘n ongelooflike voorreg en ek dank ons Hemelse Vader vir die geleentheid en die talent wat Hy my gegee het.

Genoeg geklets vir eers. Volgende week vertel ek so paar staaltjies van troufotografie.
Bernadette Dippenaar
BE Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *