Beroepsfotograaf

So jy oorweeg dit om fotografie as ‘n deeltyds of voltydse beroep te beoefen?
Die heel eerste punt wat ek wil beklemtoon is dat die oomlik wat jy ‘n fooi begin vra vir jou fotografie dienste, jy verantwoordelik is dat jou kliënt die eindproduk ontvang waarvoor hy of sy betaal.
Ons hoor so gereeld in die industrie van bruide wat lang trane huil omdat hulle gekul is deur ‘n fotograaf wat nie bekwaam was om die taak te vervul nie. Soms is die gesegde “goedkoop koop is duur koop”, tog maar waar. Om goed te lyk op ‘n foto gebeur nie perongeluk nie, die korrekte postuur, die wegsteek van imperfeksies, korrekte beligting en fotografie hoeke neem baie jare se ondervinding.

Hoe kan jy ‘n sukses maak van jou fotografie?
Eerstens stel ek voor jy doen ‘n fotografie kursus. Nie almal het duisende rande om te spandeer op duur kursusse nie, maar dit is ongelooflik belangrik dat jy ten minste ‘n beginnerskursus in fotografie doen. Daar is baie fotograwe wat kursusse aanbied teen ‘n billike fooi.
Die volgende aspekte sal tydens ‘n beginnerskursus aan jou verduidelik word:
1) Toerusting (kamera, flits, batterye, ens)
2) Verskil tussen landskap en portret fotografie
3) Interaksie tussen kliënt en fotograaf
4) Die meet en verstaan van beligting
5) Basiese flits fotografie

Gevolg deur ‘n manual kursus wat basies die volgende sal dek:
1) ISO, Sluiterspoed en Fstop
2) Hoe om die bogenoemde te balanseer
3) Hoe om lig te meet en te verstaan

Dan stel ek voor dat jy skaduwerk by ander fotograwe begin doen – dit was my beste leerskool. Dit help jou om die kennis wat jy geleer het, toe te pas. Oefen, oefen en nogmaals oefen.

Doen so gereeld jy kan kursusse. Fotograwe bied gereeld 1 of 2 dag kursusse oor beligting, foto redegering, kosteberekening ensomeer. Onthou ook daar is oneindig baie Youtube tutoriale wat jy kan kyk om jouself te bemagtig. As jy wil spesialiseer in ‘n spesifieke veld, soos byvoorbeeld troufotografie, doen ‘n kursus by ‘n trou fotograaf. Begin as ‘n assistent wat basies die hele dag die fotograaf se regterhand is en help met dra van gereedskap, reflektor vashou, ruil van lense, posering van die bruidspaar ensomeer. Die kennis wat jy opdoen deur net ‘n ander fotograaf te sien werk, is onvervangbaar. Daarna kan jy dalk begin om as ‘n assistent fotograaf te begin werk en so jou portfolio op te bou.
Ek is al 13 jaar in die fotografie bedryf, maar ek het ook begin as ‘n groentjie wat na my kamera gestaar het en gewonder het hoe ek ooit alles gaan onthou en regkry. Ons almal moet iewers begin – glo altyd in jouself! Ek leer nou nog elke dag iets nuut, ons moet onsself heeltyd verbeter en op datum bly met verandering in die mark en verbetering van tegnologie.
Volgende week gesels ek oor Plan B… watter plan B? Wanneer dinge nie verloop volgens plan nie. Hoe gemaak as die bruid se rok skeur, die bruidsmotor breek, ‘n bruid met ‘n paniek aanval of ‘n skerpioen die fotograaf steek (o ja, dit het met my gebeur en ek het die foto’s om te wys – volgende week). Nou begin dinge interessant raak!

Ek geniet terugvoer verskriklik baie, so lewer asseblief kommentaar, vra gerus vrae en deel ons blad met ander.
Volgende week is dit ek en my beroemde skerpioen storie – watch this space!!

Bernadette Dippenaar

BE Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *