“Tipsy”Ou Oomies En Skerpioene

Alles verloop nie altyd volgens plan met trou en funksie fotografie nie. Onvoorspelbaarheid is deel van die pakket. Al beplan jy vooraf alles noukeurig met lysies, ekstra toerustig en batterye, is jy nie altyd gewaarborg dat alles gaan uitwerk soos beplan nie.
Oom Jan is dalk al bietjie te ‘tipsy’ vir die groot familie foto, Tannie Emily kan haar balans verloor teen die geskenk tafel druk wat per ongeluk die troukoek laat omtuimel. Hoe gemaak as ‘n gas voor jou inbeweeg tydens ‘n kritiese oomblik en jy mis die foto? Jy kan ook nie die weer voorspel nie. Hoe pas jy aan in onbeplande ongure weersomstandighede?
Been there, done that, got the t-shirt, soos die gesegde lui. ‘n Paar wenke wat my gehelp het om as profesionele fotograaf meer instinktief so ‘n situasie te hanteer:
Bruidsmeisies, was julle hande voor julle die bruid help aantrek en indien daar wel per ongeluk onderlaag of lipstiffie op die trourok beland, gebruik wetwipes om af te vee en ‘n handdoek om die rok weer droog te kry.
Ek (en meeste fotograwe) het ‘n emergency kit vir die wis en die onwis: wetwipes, naald en gare (ons het vele trourokke al moes vaswerk en selfs 1 baie skaam bruidegom se broek, en ja, ek het al self met ‘n geskeurde broek opgeëindig), superglue (glo nou maar vir my as ek sê daai ‘diamante’ kom vinnig af van ‘n oorbel, skoene en haarkamme), kopseerpille, allergie medikasie ensomeer. Maak seker jy het altyd ‘n sambreel, gumboots en ‘n reflekteerder in jou motor. Dan het Brenda in ‘n vorige artikel gesels oor die belangrikheid van voorbereiding in terme van toerusting en kaarte.
In my ervaring is dit baie belangrik om, veral met funksies en troues, seker te maak daar is ‘n 2de fotograaf, juis omdat jy nie alle omstandighede kan beheer nie. Met ‘n 2de fotograaf het jy die versekering dat jy nooit ‘n skoot sal mis nie en het jy altyd ‘n veilige vangnet as die tegniese, of ander noodlot, jou tref.
Niemand beplan om ‘n klient in die steek te laat nie, maar hoe gemaak as jy skielik siek word of seer kry? Ek het al ‘n troue afgeneem met ‘n koors van 42 en ‘n gebreekte pols, maar die hoogtepunt was ‘n skerpioensteek!
Ek kan vandag vreeslik lekker lag daaroor, maar toe ek in die situasie was, was dit glad nie so snaaks nie.
Dit was ‘n troue by Seatrader in Britannia Baai so 2 jaar gelede. Ek en die videograaf het oudergewoonte agter ‘n prentjiemooi foto aangehardloop en deur die bossies geboender agter die foto aan. My eerste voetfout was oop skoene (glo my ek dra nou net stewels).
Ek het ‘n klein skrapie op my voet gevoel, maar die bossies en takkies was skerp, so ek het regtig nie veel ag geslaan daarop nie.  Die mooi foto oomblik was baie belangriker. Tydens ‘n oomblik in die seremonie het ek my voet voel brand, maar my fokus was steeds op die bruidspaar. Tydens die canape’s was daar ‘n blaaskans, omdat die son nog bietjie te hoog was vir die fotosessie. Ek het eenkant gaan sit en my voet begin skoonmaak terwyl my 2de fotograaf die gaste afgeneem het. Teen hierdie tyd was my hele voet vol bloed. Die eienaar van Seatrader het my om die hoekie sien sit en dadelik kom help. Soos ons my voet begin skoon was het, was daar 2 baie duidelike gaatjies 1cm uit mekaar op my voet. Ons eerste gedagte was ‘n pofadder, aangesien hulle vollop is in daardie wêreld, maar die oom het my ook gewaarsku dat dit moontlik ook ‘n skerpioen kon wees. Hy het redelik kalm opgemerk dat ons oor so 10 minute sal weet of dit ‘n pofadder was en sal dan moet jaag na die naaste dorp (Saldanha). As dit ‘n skerpioen was, het ek nog so 2 ure voor ek gaan begin sleg voel.
2 Ure later het ek my antwoord gehad. Die simptome het my tydens die romantiese fotosessie getref en stelselmatig vererger deur die loop van die aand. Teen 10pm (huis toe gaan tyd) was ek redelik siek. Gelukkig kon my 2de fotograaf my veilig in die Kaap en in die bed kry. Met geen teenmiddel teen skerpioen gif, was ek 2 weke later eers weer my ou self.
Moral of the story: moet nooit oop skoene dra nie, nie eers by die see nie, kyk waar jy trap en maak seker jou 2de fotograaf is die sout werd! Jou kliënt verwag van jou om ‘n werk te doen en jou verantwoordelikheid is om te sorg dat dit na die beste van jou vermoë gedoen word, ongeag die omstandighede.
Wees altyd voorbereid op die onvoorsiene, maar meer belangrik as dit is die wyse waarop jy dit hanteer. Dit gaan die deurslag gee. Bestuur paniekerigheid, jou werk is om die bruidspaar rustig en kalm te hou – fake it if you have to. En onthou God sal jou nooit in ‘n situasie plaas wat jy nie kan hanteer nie.
Sterkte!
Ek sien uit daarna om te hoor of enige van julle al soortgelyke ervarings gehad het!
Volgende week gesels ek bietjie oor ‘second shooting’, jou pligte en etiket.
Mooi week vir almal.

Bernadette Dippenaar

BE Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *