Die Perfekte “Second Shooter”

As trou fotograaf is ek altyd opsoek na ‘n goeie second shooter. Hierdie persoon is jou regterhand en moet jy 100% op hulle kan staatmaak. Daarom is dit so belangrik om vooraf duidelik te maak wat jy van hulle verwag.

Ek het al regtig briljante second shooters gehad (maar hulle is nie altyd beskikbaar nie) en ek het al ‘fotograwe’ gehad wat geen idee gehad het hoe om hul kamera te gebruik nie.

Hierdie lysie is handig vir fotograwe en second shooters, dit sal dalk ‘n paar vrae en onduidelikhede antwoord.

Wenke hoe om die perfekte second shooter te wees:

1.) Moet nooit laat wees nie – beplan jou roete vooraf en neem verkeer in ag.
2.) Wees altyd gereed om as primêre fotograaf te kan instaan – sorg dat jou geheuekaarte gereed is en dat jy genoeg het. Jy moet genoeg batterye hê vir jou kamera en flits. Maak seker hulle is gelaai en pak jou batterylaaiers in (maak seker jy pak ‘n 2 punt prop in). Onthou as die primêre fotograaf ‘n tegniese probleem optel of siek word moet jy gereed wees om sy pligte oor te neem.
3.) Skiet RAW – ek aanvaar slegs RAW foto’s. JPEG foto’s se kwaliteit is merkbaar swakker en beperk jou met die herstel van die witbalans in foto’s.
4.) Kleredrag – dra ten alle tye swart en netjies. Jou kleredrag en algehele netheid weerspieël die beeld van die fotografie besigheid wat jy verteenwoordig.
5.) Neem baie foto’s – neem inisiatief en neem oomblikke af soos dit ontvou. Moenie wag om gevra te word om ‘n spesifieke foto te neem nie.
6.) Bly uit die foto – hou die primêre fotograaf die hele tyd dop en sorg dat jy uit sy agtergrond bly. Moet onder geen omstandighede op en af loop in die kerk voor die bruidspaar nie. Soms moet jy posisie inneem en daar bly om nie steurnis te veroorsaak nie.
7.) Dit is nie ‘n fotografie kursus nie – as jy enige vrae het, vra wanneer ons buite gehoorafstand van die bruidspaar is.
8.) Onthou jy is die sêkondere fotograaf – jy moet ten alle tye die leiding van die primêre fotograaf volg. Hy/sy sal besluit waar, hoe en wanneer.
9.) Detail – let op kleiner dingetjies wat die primêre fotograaf dalk miskyk. Is die bruidegom se das reguit, is die strooimeisies se ruikers ewe hoog, lipstiffie op tande en hare in oë?
10.) Professioneel – wees vriendelik en behulpsaam, moenie onnodige geselsies aanknoop nie.
11.) Los jou besigheidskaartjies tuis – dit is vanselfsprekend. Jy is daar om foto’s te neem en nie om te netwerk vir nuwe kliënte nie.
12.) Selfoon – bêre jou foon vir die dag.
13.) Sosiale media – moet asseblief nie die bruidspaar, hul gevolg of gaste byvoeg op jou persoonlike/besigheid Facebook of Instagram nie.
14.) Deel van foto’s – geen foto’s van die troue mag op enige platvorm gedeel word, alvorens jy nie die uitdruklike toestemming van die primêre fotograaf kry nie.
15.) Moenie foto’s delete nie – soms voel mens onseker of skaam oor ‘n foto, maar die ander fotograaf mag dalk iets juis in daardie foto vind waarvan hulle hou.
16.) Geen alkohol – indien die bruidspaar of gaste aanbied, wys dit vriendelik van die hand.
17.) Aflaai van kaarte – geskied dieselfde dag van die funksie.
18.) Back of camera foto’s – mag nie gedeel word met die bruidspaar of gaste nie.
19.) What happens in a shoot, stays in a shoot – moenie uitpraat – aka skinder – na ‘n troue van die gaste of die fotograaf nie. Dit is onprofessioneel.
20.) Werksure – bly en werk vir die volle hoeveelheid ure bespreek. Geen uitsonderings.
21.) Browny points – as jy ‘n paar behind the scenes foto’s neem vir die fotograaf se webtuiste of sosiale media.

Ek kan nog boekdele skryf, maar kom ons hou vir eers by die kernpunte.

Ken jou kamera en hou by die reëls en jy mag dalk net baie vinnig vol bespreek wees. Goeie second shooters is baie skaars.

Volgende week praat ons bietjie oor prys. Hoe bereken jy kostes ensomeer.

Bernadette Dippenaar

BE Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *