Kritiese Moet-Neem-Foto-Oomblikke

Vandag gesels ek bietjie oor die belangrikheid daarvan om kritiese oomblikke vas te vang. Elke fotosessie het sekere foto’s wat jy moet neem.
Kom ons wees realisties, jy kan nie met ’n lysie rondloop tydens ’n fotosessie nie, maar jy kan voor die tyd jou eie lysie maak en dit memoriseer.
’n Fotosessie is ook nie net oor die must haves nie, probeer elke keer ietsie nuut. Probeer jou eie unieke styl vind, maar bly ook op hoogte van die nuutste modes en tendense.
Dit is nie altyd moontlik om elkeen van die punte op hierdie lysie af te neem nie, dit is net ’n riglyn. Elke troue verskil.
Ek deel graag die volgende lysie met julle wat ek gebruik op troues. Na 13 jaar is hierdie lysie in my geheue en hart gegrafeer.
BRUIDSVOORBEREIDING
– Detailfoto’s is baie belangrik. Sorg dat jy die bruid se rok, skoene, kousband, ruiker, parfuum, juweliersware en sluier afneem.
– Die haarkapper wat besig is om die bruid se hare te stileer.
– Die grimeerkunstenaar wat die grimering aanwend.
– Ma van die bruid of strooimeisie wat die sluier opsit.
– ’n Foto van die bruid wat haar parfuum aanwend.
Portraits van die bruid alleen (vol lengte, sowel as kop en skouers), ’n foto saam met die gevolg en dan ook ’n foto saam met haar ouers.


BRUIDEGOMVOORBEREIDING
Alle pakkette sluit nie die afneem van die bruidegom in nie. Indien jou pakket dit wel insluit, is dit wat jy moet afneem.
– Detailfoto’s van sy skoene, mansjetknope, kruisbande en enige ander detail.
– Die bruidegom wat gereedmaak saam met sy strooijonkers (die knoop van die das is ’n klasieke foto).
– ’n Vollengte- en kop-en-skouers foto van die bruidegom.
– ’n Foto van die bruidegom saam met sy gevolg.
– ’n Foto van die bruidegom en sy ouers.


DIE SEREMONIE
– Die bruidegom en sy gevolg wat by die preekstoel staan en wag.
– Strooimeisies en strooijonkers wat na die preekstoel toe loop.
– Foto van die blommemeisies en ringdraer.
– Die bruid wat aankom by die seremonie en in die paadjie afstap na haar bruidegom.
– Die bruidegom se gesigsuitdrukking as hy sy bruid die eerste keer sien.
– Die bruid se pa wat haar afgee en die bruidegom se hand skud.
– Gewoonlik kry jy hier spesiale foto’s van die bruid se ma wat ’n traantjie pink.
– Steelfoto’s van die gaste se reaksies en gesigsuitdrukkings.
– Gesigsuitdrukkings van die bruidspaar wanneer hulle hul troubeloftes aflê.
– Wye foto van die hele prentjie (seremonie).
– Die aansit van die ringe.
– Die eerste soen.
– Die teken van die trouregister.
– Strooi van roosblare terwyl bruidspaar van die preekstoel af stap deur na die gaste toe.
– ’n Paar foto’s van gelukwensinge deur familie en vriende.


FAMILIE FOTO’S
Daar is nie ’n spesifieke lys vir familiefoto’s nie, die behoefte verskil op elke troue. Die raad wat ek egter kan deel is om dit by direkte familie te hou (ouers, grootouers, broers en susters), anders neem dit te lank. Vriende en ander familie kan by die onthaal afgeneem word.
Spaar jouself lang trane van frustrasie en vra die bruidspaar om jou van ’n lysie te voorsien van die familiefoto’s wat hulle verlang. Jou assistent of tweede fotograaf kan die name uitlees en die mense help om in die regte posisie te staan. Dit spaar baie tyd.

FORMELE ROMANTIESE FOTOSESSIE
Neem die bruidspaar en die gevolg weg van die gaste en begin deur ’n paar foto’s van die gevolg te neem. Weereens is hier nie ’n spesifieke lys waaraan jy hoef te voldoen nie, maar ek probeer die volgende doen op die troues wat ek afneem. Ek probeer altyd, om tyd te spaar, hierdie taak op te deel tussen my en my tweede fotograaf (dit is waarom jou tweede fotograaf 100% bekwaam moet wees).
– ’n Foto van die bruidspaar saam met die hele gevolg.
– ’n Foto van die bruid saam met haar strooimeisies.
– Foto’s van die bruid saam met elkeen van haar strooimeisies.
– Een of twee unieke foto’s van die bruid saam met haar strooimeisies.
– ’n Foto van die bruidegom saam met sy strooijonkers.
– ’n Foto van die bruidegom saam met elkeen van sy strooijonkers.
– Een of twee unieke foto’s van die bruidegom en sy strooijonkers.
– Ongeveer twee unieke foto’s van die bruidspaar en die hele gevolg.
Hierna kan die gevolg teruggaan na die res van die gaste, sodat jy die bruidspaar alleen kan afneem. Geen spesifieke fotolys vir hierdie foto’s is nodig nie, hier kan jy jou kreatiwiteit uitleef. Probeer egter die volgende afneem:
– ’n Kop-en-skouers- en vollengte foto van die bruid en bruidegom apart.
– ’n Foto van die ringe.
– Romantiese oomlike tussen die bruidspaar, ek probeer dit so natuurlik en ontspanne moontlik doen.


DIE ONTHAAL
Maak seker dat jy teen hierdie tyd reeds die saal afgeneem het. Ek neem gewoonlik die onthaalarea af nog voordat ek na die bruidsvoorbereiding gaan. Maak seker jy kry ’n foto van die prentjie as geheel asook detailfoto’s. Maak seker jy neem die troukoek, gastegeskenkies en dekor-detail af.
– Die bruidspaar terwyl hulle die onthaalarea binnestap.
– Die toesprake – een foto per spreker is genoeg.
– Gaste en bruidspaar se gesigsuitdrukkings gedurende die toesprake.
– Die sny van die troukoek.
– Die gooi van die kousband.
– Die gooi van die bruidsruiker.
– Die eerste dans.
– Pa-en-bruid-dans.
– Ma-en-bruidegom dans.
– Almal op die dansvloer.
– Kuierfoto’s
– Tafelfoto’s indien versoek deur die bruidspaar.

Today’s Photographs. Tomorrow’s Memories.

Volgende week. 10 Stappe om JOU trou Fotograaf te vind.

Bernadette Dippenaar

BE Wedding Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *