Voetspore – Getruida Van Hagar Huis

Foto krediet:  Brenda Veldtman https://www.facebook.com/Veldtmanphotography/?ref=br_rs

Ons eerste van ons Voetspore reeks is hier!  Getruida Maartens is deur een van ons lesers, Lyndsay Massyn, genomineer.  Daar is soveel mense wat so baie doen vir hul medemens,wat voetspore los by diegene wie hulle help, hier in ons gemeenskap.  Ons wil graag daardie mense aan almal bekendstel.  Ek en Brenda wag in spanning vir jul volgende nominasie.

Op ‘n sonnige, maar ysige wintersoggend word ek en Brenda met ope arms ontvang deur Getruida Maartens (56).

Getruida, met haar graad 6 en bende agtergrond, erken haar man, Godfrey (56), het haar op die regte pad gehelp.  “As dit nie vir Oupa (soos hy by almal bekend staan) was nie, was ek seker steeds deel van daardie lewe” sê Getruida.  Sy het gelukkig nou ondervinding en verstaan moontlik die mense met wie sy elke dag saamleef soveel beter.  Sy het vir 16jaar in welgestelde inwoners van die Noordelike Voorstede se huis gewerk. Getruida en Godfrey het een seun (36) en 3 pleegkinders. 

In 2009 het Getruida begin om partytjies vir die kinders van Fisantekraal te reël.  Sommer vir 350 kinders op ‘n slag!  Haar omgee vir haar medemens is raakgesien en sy is gevra om Fisantekraal se Trauma koördineerder te raak.  Na 2 jaar van hartseer waarmee sy so gereeld gewerk het, het Getruida besef daar is ‘n groot behoefte aan ‘n plek om vrouens en hul kinders veilig te hou, totdat hulle weer na hulself kan kyk.  In 2011 het Hagar Huis https://www.facebook.com/Hagar-Home-abused-women-and-children-174226612742279/ sy deure geopen in Fisantekraal. 

Hagar Huis huisves tans 6 ma’s en hul 6 kinders.  Die gesinne kom van so ver as Caledon om veiligheid en liefde by Getruida te vind.

“Ons praat nie sommer oor die hartseer nie.  Ons is net een groot gelukkige familie.  Wanneer dinge te erg raak kom die berader en gesels met die vrouens” sê Getruida.

Petro* woon al 4 jaar by Getruida – van haar geboorte.  Haar oupa het gesê haar ma mag nie huistoe kom met Petro* wanneer sy gebore is nie.  Petro* se ma het ongelukkig in die tussentyd weer begin om alkohol te misbruik en sy woon nou op ‘n ander plek.  Petro* woon steeds by Hagar Huis, hierdie is die enigste huis wat sy ken.  “Sy gaan eendag ‘n danser wees” vertel Getruida trots en roep vir Petro* om vir ons te kom wys.

Ek is seker Getruida se liefde en ondersteuning trap diep voetspore in hierdie dogtertjie (en soveel ander mense) se lewens.

Hagar Huis is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie (092-876-NPO) en het tot en met einde Mei 2017 gereeld kos van ‘n groot kettingwinkel in Durbanville gekry.  Nadat ‘n nuwe bestuurder aangestel is, is die donasies gestaak en daar is nou onsekerheid vanwaar hulle kos sal kry.

Indien enige iemand bereid is om kos of ander artikels te skenk kan julle gerus vir Getruida skakel by 083 747 2743.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *