DHF Bring Bietjie Hoop En Wys Gesig In Binnelanders

Foto Krediet: Quentin Viljoen

Augustus is ‘n groot maand vir die Die Heuwels Fantasties! Hulle stel twee nuwe enkelsnitte en twee musiekvideo’s vanaf hulle vyfde album, OKAY! bekend, kuier saam met Rian van Heerden by JacarandaFM, stel die musiekvideo vir die enkelsit, Laaste Rondtes, bekend op Jukebox kykNET, gesels op 6 Augustus met Bravo!, wys gesig in Binnelanders, vermaak op 25 Augustus by Toks & Tjops en bring terselfdertyd Bietjie Hoop in samewerking met GWK.
Op 4 Augustus 2017 was die eerste enkelsnit, Bietjie Hoop eksklusief op JacarandaFM vrygestel, wanneer Pierre Greeff, Hoofsanger: Die Heuwels Fantasties, in die ateljee kuier en meer vertel oor die skryf en opneem van hierdie spesiale lied in samewerking met die GWK. Neil de Klerk, Uitvoerende Hoof: Bemarking en Kommunikasie by GWK het Die Heuwels Fantasties genader rondom die skryf van ‘n lied wat opgedra sou word aan produsente nadat die oorgrote gedeelte van die land aan die einde van 2016 vasgevang was in die greep van ‘n verwoestende droogte, en die volharding en positiwiteit van Suid-Afrikaanse produsente meer uitgestaan het as ooit tevore.
Dit het wat GWK glo en verkondig weer bevestig – produsente is helde”, sê Neil. “Ons het op Die Heuwels Fantasties besluit omdat hulle self hulle musiek skryf en die produksie daarvan doen. Hulle musiek is ook baie oorspronklik en is nie beperk tot ‘n spesifieke genre of ouderdomsgroep nie. Smaak verskil, maar as ons selfs een produsent hiermee raak, is dit die moeite werd”.
Die Heuwels Fantasties het die geleentheid verwelkom om die musiek en die GWK-boodskap te “trou” en Bietjie Hoop is gebore. “Ons is trots op die liedjie en only good can come of it”, sê Pierre.
GWK het gevoel die inspirerende lirieke en boodskap moet ook visueel uitgebeeld word en ‘n musiekvideo is gemaak. 1988|Films het die ware gees en karakter van produsente uitgebeeld. “Die produksiespan hoop dat hierdie boodskap elke produsent sal raak en vir hom/haar sal sê “ons sien raak wat julle doen, ons bewonder julle en almal het ‘n bietjie hoop nodig” sê de Klerk.
Bietjie Hoop is bekikbaar op Die Heuwels Fantasties se nuwe album, OKAY!, wat op 5 Mei 2017 uitgereik is. Dit kan ook afgelaai word op iTunes. Die video kan op GWK se Facebook blad gekyk word https://www.facebook.com/gwkbpk/ en ook op YouTube https://youtu.be/YRZruBzF1VQ
Op die 9de Augustus wys Die Heuwels Fantasties gesig in die baie populêre kykNET sepie, Binnelanders. Hulle maak ‘n draai in Nagskof en stel só die tweede enkelsnit vir Augustus, Laaste Rondtes, bekend.
In hierdie episode is die tragiese liefdeslewe van Louis Koster (gespeel deur Germandt Geldenhuys) wat teen hierdie tyd verloof is aan Tracy Moolman (gespeel deur Corné Crous), wat weer op haar beurt deur haar suster Alice (gespeel deur Laré Birk) gemanipuleer word om (saam met sus Alice) wraak te neem op Louis vir iets wat baie lank terug in Kroonstad gebeur het. Dan wonder kykers ook of Lexi Abrahams (gespeel deur Keisha Skei) die moed bymekaar gaan kan skraap om vir Mamma Bronwyn (gespeel deur Kim Cloete) en Pappa Steve (gespeel deur Clint Brink) te vertel dat sy en haar nuwe kêrel Ross (gespeel deur Luan Jacobs) swanger is.
“Hier by Binnelanders is ons altyd opsoek na talent wat kan optree in NAGSKOF, die reeks se nagklub, en toe Alishia van Deventer van Starburst Promosies ons genader het om te hoor of ons nie dalk die tweede enkelsnit van DIE HEUWELS FANTASTIES se vyfde ateljee-album (OKAY!) wil loods nie, het ons die idee met ope arms verwelkom – en aangegryp. Laaste Rondtes pas PERFEK in by die vervlegte storielyne, en weerspieël die emosionele reis waarop elkeen van die Binnelanders in hierdie episode is”, sê Ernst Swart, Publisiteitsbestuurder by Binnelanders.
Laaste Rondtes se musiekvideo was ook Saterdagaand, 5 Augustus 2017, eksklusief bekendgestel op Jukebox kykNET en sal daarna op Youtube beskikbaar wees. Dié liedjie is ook beskikbaar op Die Heuwels Fantasties se nuwe album, OKAY!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *