Joshua Na Die Reen Stel Stof & Sterre Bekend

Joshua na die Reën se album, Die Wêreld Binne My, se liedjies is persoonlik en handel oor die wêreld binne elkeen wat daarna luister. Die genre is Stadium Rock en die album bestaan uit sestien oorspronklike introspektiewe snitte.

Een van hierdie snitte is Stof & Sterre en dit word nou, gedurende die week van 18 Junie 2018, aan radiostasies landswyd uitgereik.
“Nadat ek lank oorweeg het wat Nandi van Deventer se verjaarsdagboodskap aan my, op 11 September 2016, kon beteken, het ek tot die oortuiging gekom dat die stof waaruit die mens gemaak is, iewers ‘n gedaanteverwisselling moet ondergaan, en dan soos sterre in die nagruim voortbestaan. Ek wil ‘n vergelyking skep tussen die mens as stof, en die mens as ster. Die proses van stof na sterre verg ‘n veranderde uitkyk na die daaglikse omgang met alles om jou, asof alles saamwerk om die stof (die onafgeronde in ons) na sterre (iets wat deur ewigheid afronding kon deurstaan en nou lig uitstraal) te verander”, sê hy.
“Hierdie proses raak ook ‘n tweekantige samewerking tussen my en jou, want as ons by mekaar is moet die stof tussen ons in sterre verander:
Ek wil loop waar stof in sterre
Verander my hartklop
Na waar die winde en die weer en wolke saamwerk om stof in sterre te verander
Verander dan my hart
Die volgende gedagte wat my ontwaak het, word in die tweede vers beskryf:
Wanneer die wêreld in my donker raak
Staan jy op ‘n berg soos ‘n stad
Die lig van jou strate
reis oor die vlaktes heen
tot binne my hart roep dit uit
In die skemer as die kleur vanuit my wêreld wegraak.
In die onsekerheid staan jou poorte vir my aanhoudend oop.
Ek het ‘n begeerte dat my poorte altyd sal oopstaan vir jou as mens, sodat wanneer die wêreld ‘n donker plek raak, jy steeds ‘n veilige plek in my sal vind en ek in jou.”
Nandi van Deventer se boodskap aan Joshua na die Reën op 11 September 2016 was dit: “Mag jou voete altyd loop waar stof in sterre verander”.

Volg Joshua Na Die Reen by
Facebook:https://www.facebook.com/JoshuaNaDieReen

Twitter: @JoshuaNaDieReen

Webblad:  http://www.jndr.co.za/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *