Wat Is Jou Styl (Deel 1)

Deur Unlabelled Mama (Esanne Horn)

Een van my gunsteling aanhalings in die lewe is die volgende: “There is no different right or different wrong, only a different different”. As dit kom by wyn-drinkers is hierdie van die waarste woorde ooit! Ons almal het hulle al raakgesien, die teetuin-tannie, die spasma-soldaat, die bubblies die mamma’s en nog vele meer. Ons gaan oor die volgende paar weke bietjie kyk na die verskillende tipes wyn-drinkers. Geniet hulle saam met my en laat weet gerus as jy jouself of van jou mede-drinkers herken!

Teetuin-tannies: Dis natuurlik die geheelonthouers. Oor hulle dooie liggaam sal hulle saam met jou ‘n glasie wyn drink! Hulle is nie noodwendig veroordelend teenoor die wat wel wyn geniet nie, maar is goed gewapen met redes hoekom hulle (en natuurlik jy), nie behoort te drink nie. Die meeste van hulle is dood-tevrede in hul wêreld van tee en mineraal water. Hulle is natuurlik baie handig as drywers wanneer julle ‘n aandjie uit beplan! ‘n Gepaste drankie vir die teetuin-tannies is ‘n koppie Earl Grey tee of ‘n glasie alkoholvrye druiwesap van Stettyn Kelder wat bedien word saam met komkommerbroodjies.

Spasma-soldate: Hierdie klomp se neuse trek so hoog in die lug en hul rue so regop dat hulle of hulleself of my en jou ‘n spasma gaan gee. Vir hulle is daar geen vreugde in die drink van wyn nie, dit is ‘n uitmergelende proses van die etiket bestudeer, skink, ruik, slurp, spoeg, dink, en kritiek lewer! Dis ‘n goed ingeoefende proses en van die plan sal daar nie links of regs afgewyk word nie. Hierdie is nie die tipe drinker wat jy op ‘n Vrydagaand wil oornooi vir ‘n bietjie ontspanning nie! As jy ‘n spasma-soldaat raaksien by ‘n partytjie, beweeg vinnig aan en skink vir jouself nog ‘n glasie! Vermaak die spasma-soldate met ‘n bottel Suikerbossie van Boer en Brit (lekker baie op die etiket om te lees en hulle besig te hou) of ‘n ordentlike bottel Chocolate Block van Boekenhoutskloof.

Rubber-arms: ‘n Dierbare vriendin van my was hier die inspirasie! Dis nou daai een vir wie jy ‘n glasie wyn aanbied wanneer dit nog nie heeltemal aanvaarbare wyn-drink-tyd is nie. Die antwoord is gewoonlik ‘n duidelike en ferm “Nee dankie”. Jy volg dan op met “Ag asb man, net ‘n ou klein bietjie, dis so lekker om saam met jou ‘n glasie wyn te geniet.” En net daar is die rubberarm gedraai en die wyn begin vloei! Dan is daar geen keer aan my rubber-arm vriendin nie en kuier ons ‘n hond uit ‘n bos om ‘n hele paar glase wyn en ons lag en gesels saam vir ure! Hierdie is beslis van my gunsteling tipe wyn-drinkers. Hulle het geen fiemies en geite en as die arm eers gedraai is, is daar geen keer aan die pret. Die beste pasmaats hier is enige iets tussen ‘n Riebeeck Kelder Chenin Blanc en ‘n Stonedale Shiraz van Rietvallei. Bestel sommer ook ‘n paar pizzas, want hierdie kuier gaan lekker raak!
Volgende keer gesels ons verder oor die oor-gooiers, die optoppers en die budget-beaters! Cheers!!
“wine, because no great story starts with salad…..”

https://www.facebook.com/winecrazy/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *