Wat Is Jou Styl? (Deel 2)

Deur Unlabelled Mama (Esanne Horn)

O, ek sou darem wat wou gee om oor jou skouer te loer terwyl jy lees, sodat jy my kan vertel of jy van jou mede-drinkers in die style herken! En natuurlik brand ek van nuuskierigheid om te hoor watter tipe my blog-lesers is…….. Vandag gaan gesels ons so bietjie na spesifiek twee dames style.
Die bubblies: Hierdie is gewoonlik jonger dames, sommige met jong kinders, hulle hare en naels is perfek gedoen, hulle lyfies getuig van ure se oefen in die gym en groenslaai en smoothies drie maal per dag. Hulle dra skinny jeans en rooi hoëhak skoene en hulle ry groot fancy motors. En hulle drink bubbly. Nee, nie nagemaakte champagne nie, net MCC (Method Cap Classique). Waag jy dit om ‘n bottel bubbly oop te maak wat nie aan hulle standaarde voldoen nie, word jy van onderuit lang vals wimpers aangegluur. Hierdie dames reken dat daar enige tyd van die dag en enige dag van die week ‘n rede is om iets te vier met ‘n bottel regte egte bubbly! In hule glasies skink ons Pierre Jourdan van Haute Cabriere of Tradition van Villiera en nee wat, geen eetgoed is hier nodig nie, hulle sal netnou hulle groenslaai’tjie by die huis gaan geniet.
Die MAMA’S: Die mama’s het kinders op skool, sommige is werkende moeders terwyl ander verkies om tuis te bly en hul kinders rond te ry. Die mama’s dra die gemaklikste broek in haar kas, ‘n paar sneakers aan haar voete en haar gunsteling top wat sy drie jaar terug op afslag gekoop het. Haar hare is vas in ‘n ponie en make-up word aangesit op spesiale dae soos wanneer sy die skoolhoof moet gaan spreek oor Pietie se gedrag of haar betrokkenheid by die ouerkomitee. Sy is altyd op ‘n drafstap êrens heen oppad, maar sy het altyd tyd vir haar vriendinne en om te help met ‘n sportdag se snoepie verkope by die skool. Een van haar gunsteling oomblikke van die dag is wanneer sy daai wyn in haar glas hoor val. Dan sprei daar ‘n glimlag op haar gesig en ‘n glinster in haar oog wat sy net nie kan keer nie. Sy het geen idee wat presies dit is wat sy skink nie, sy het geen idee hoe lank die bottel al oop is nie, sy het geen idee wat sy in die wyn ruik of proe nie. Sy weet net, aan die einde van nog ‘n dol dag, met haar kinders en haar man almal veilig terug in die nes, verdien sy haar glas wyn en sy gaan hom geniet! Die perfekte wyn vir die mama’s is die een wat sy die maklikste in die hande kan kry, of hy nou unlabelled is en of dit ‘n Meerlust Rubicon is uit manlief se versameling, drink gaan sy hom drink.
Volgende keer gesels ons oor die optoppers, die oorgooiers en die blikbeker-bulle. Tot dan, cheers!
“The best wine is the one we drink with friends”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *